Ons besit mekaar nie - ons dien mekaar
top of page

Ons besit mekaar nie - ons dien mekaar


“I even own the air they breathe,” hoor ek ’n baas op TV sê, toe iemand met hom ’n onderhoud oor sy fabriek en sy werkers voer. Toe dink ek by myself: dit moet niks lekker wees om vir só iemand te werk nie. Sulke tipe mense word nie verniet control freaks genoem nie. Hulle hou daarvan om ander mense se lewens van A tot Z te beheer. Hulle geniet die mag wat hulle vir hulleself oor ander mense toe-eien. Wat ook al mense se beweegredes is om só op te tree, dit is uiters ongesond om almal te probeer beheer asof hulle robotte is. Mense is nóóit ons besittings nie.


Die Bybel roep ons op tot ’n ander roete, een wat geskoei is op geloof, respek en vertroue. Óf ons nou in leiersposisies staan, óf nie, ons almal is geroep om mekaar te dien en op die hande te dra. So leer Jesus in Markus 10:42-45. Hyself is ons voorbeeld van diens en opoffering.


Die Nuwe Testament ken geen formele kerklike leiersrolle, wat tot gevolg het dat die res gedweë moet buig voor ’n paar geestelike leiers, wat ’n paar trappies nader aan die Here sou staan as die res van ons nie. Daarom mis my hart elke keer ’n paar slae as ek hoor hoe sommige mense vandag nog ongekwalifiseerd sê hulle “submit” voor kerkleiers. Kerklike leierskap was nooit bedoel om te ontaard in formele magsposisies, wat aan leiers mag oor ander gee nie. Jesus is ons enigste Hoof en Heer. Hy is ons enigste Leier. Inderdaad word sommige gelowiges wel deur Hom geroep om Sy aardse kudde te lei en versorg, maar dan doen hulle dit altyd dienend en nederig. Dan eis hulle nooit enige spesiale gesag vir hulleself op nie.


Nóóit besit of beheer ons ander mense nie. Ons almal is mekaar se diensknegte. God se liefde leer ons almal om mekaar met integriteit te behandel.

bottom of page