Om op God se adreslys te wees, is om op sy feeslys te wees
top of page

Om op God se adreslys te wees, is om op sy feeslys te wees


Jesus is God se Een-Man-soekgeselskap hier op aarde. Hy is dag en nag op die hakke van sy Vader se verlore eiendom, wat in die wind en die weer van sonde rondlê. Hy is ook op die hakke van al God se kinders,wat op slegte afdraaipaaie uithang. Wanneer Jesus dus ons naam en adres het, moet ons weet: ons kan hardloop, maar nooit weghardloop nie. Ons kan vlug, maar nooit wegvlug nie. Ons kan in ons eie oortredings rondkruip, maar nooit kan ons vir Jesus wegkruip nie.


God wil ons almal naby aan Homself hê. Hy het ons na ’n ewige feesmaal saam met Hom uitgenooi. Hy het vir ons ’n plek gereed gemaak hier by Jesus se spesiale fees, wat tot in ewigheid anderkant die dood sal aanhou. Daarom kan God dit nie uitstaan dat ons nie vandag reeds by Sy feestafel aansit nie. Sy feessaal is met vergifnis en genade gedek. Daarom moet ons vandag opnuut ons spesiale plek hier aan Sy feestafel inneem. Ons is genooides by hierdie fees, waar Jesus die Heer, die Gasheer en die Eregas is. Om hier aan te sit, is om ewige oorvloed en liefde te ervaar.

bottom of page