Om Jesus se lydingsverhaal te onthou, is om Sy kruis te dra
top of page

Om Jesus se lydingsverhaal te onthou, is om Sy kruis te dra


“Onthou om te onthou.” So sing Laurika Rauch oor die liefde. Hierdie waarheid geld ook elders. Juis gedurende hierdie lydenstyd kies Christengelowiges om die lyding van Jesus op verskillende maniere te onthou. Gedurende hierdie tyd van veertig dae kies sommiges byvoorbeeld om sekere gewoontes te los. Party kies om nie koffie of tee te drink nie. Ander kies om nie op sosiale media aanwesig te wees nie. Nog ander kies om geen vleis te eet nie.


Watter gebruike jyself ook al navolg, of nie, moet die lyding, wat Christus deurgemaak het, in hierdie dae in jou hart en gedagtes ingegraveer wees. Jy is heel eerste geroep om Sy kruis te dra en om Sy lydingsbeker te drink, soos wat Jesus in Markus 8:34-36 sê. Of jy dus in hierdie dae vas of nie, onthou om te onthou wat dit Jesus gekos het om jou te red. Maak egter seker dat hierdie onthoutyd ook navolgtyd is. Dit gaan nie maar net daaroor dat jy jouself in hierdie dae weerhou van sekere dinge, soos koffie, sosiale media of vleis nie - dit gaan daaroor dat jy onthou om self die kruis van Jesus te dra en om ook ‘n seen vir ander te wees. Moenie net vas en ’n kruis dra sonder om nie ook ander te laat deel in Jesus se goeie nuus nie.

bottom of page