Geseënd is jy as jy Jesus se voorbeeld navolg
top of page

Geseënd is jy as jy Jesus se voorbeeld navolg


In Johannes 13 sê Jesus dat Hyself vir ons ‘n voorbeeld gestel het wat ons moet navolg. Dit was toe Hy Sy dissipels se voete gewas het. Om voete te was, was ’n uiters vernederende werk. Dit was vir slawe gereserveer, maar Joodse slawe hoef dit nie te gedoen het nie. Maar toe kies die Here en Meester van almal om dit te doen. Toe kies Jesus om iets te doen wat nie eens ’n Joodse slaaf sou doen nie. Daardie Donderdagaand, kort voor Sy eie kruisiging, het Jesus laag op sy knieë voor sy dissipels gebuk en hulle voete gewas. Toe sê Jesus toe vir hulle dit is die voorbeeld en die nuwe lewenswyse, wat hulle moet navolg. Hy voeg toe boonop by dat hulle nou weet wat die regte ding is om te doen en dat hulle geseënd sal wees, as hulle dit doen.


Ons leef in Jesus se voetspore, wanneer ons ander mense met ons lewe dien. Hulle hoef boonop nie eers oulik, dankbaar of godvresend te wees nie. Ons doen goed aan ander, want Jesus is ons voorbeeld. Jesus se hart klop in ons binneste. Daarom eggo sy woorde van Johannes 13:15 altyd in ons harte. Ek praat van daardie woorde, nadat Hy Sy dissipels se voete gewas het: “Nou weet julle dit - geseënd is julle as julle dit doen!”

bottom of page