Niemand is te gering nie
top of page

Niemand is te gering nie



Dis sleg dat daar sulke vals onderskeide in die kerk tussen geestelike leiers en gewone mense bestaan. Of tussen mense, wat groot sigbare dinge vir die Here doen, en Christene, wat stilweg vir God werk. Of tussen mense met opspraakwekkende gawes om wonders te doen en diegene met die minder opspraakwekkende gawes. Dis mensgemaakte onderskeidings. Maar helaas is hierdie sienings baie lewendig in die kerk. Te veel mense sien hulleself as minderwaardig teenoor ander Christene, omdat hulle sê hulle kan nie so mooi bid, getuig, preek, leer of praat vanuit die Bybel nie. Kort voor lank lei dit tot ‘n groot geestelike minderwaardigheid onder baie gelowiges.


Paulus wil met alles in homself keer dat daar ‘n onderskeid posvat tussen die Christene, wat oor indrukwekkende gawes beskik, en diegene, wat minder aanskoulike gawes het. Daarom dat hy onder andere van die kerk as ‘n liggaam praat. Hiermee maak hy duidelik dat elke persoon in die kerk belangrik is, net soos wat elke ledemaat van ‘n liggaam nodig en belangrik is. Selfs die mees onopgemerkte ledemate van die liggaam is onontbeerlik vir die funksionering van ‘n gesonde liggaam. Dieselfde beginsel geld in die kerk. Elkeen is nodig om die Here se liggaam gesond te hou. Dit geld ook vir jou, ja, júis vir jou! Moenie dink jy is minderwaardig teenoor ander Christene nie. Die Here het jou spesiaal gemaak. Wees dan ook spesiaal aan diens vir Hom.


Gebed:

Here, almagtige God, U het ook aan my ‘n spesiale plekkie in U wingerd gegee. Dankie hiervoor. Amen.

bottom of page