Nuwe gawes?!
top of page

Nuwe gawes?!



Is dit nie ‘n fout dat ons vandag nog eens by 1 Korintiërs 12:11 stilstaan nie? Nee, want daar’s nog iets wat ons hier moet leer. Dit hou verband met die vraag of God in ons dag nuwe gawes deur Sy Gees gee, of nie. Anders gestel: is die gawes, wat Paulus hier in vers 8 -10 noem, ‘n onveranderlike lys? Die antwoord is geleë in vers 11, naamlik dat die Gees aan elkeen gee, soos Hy wil. Dit berus met ander woorde nie by ons om te besluit watter gawes die enigste groepie gawes is wat die Gees kan gee nie. Hy werk soos Hy wil, soos wat Jesus in Johannes 4 aan die Samaritaanse vrou gesê het. Daarom is dit eintlik ‘n vals vraag of die gawes van die Gees net dié insluit, wat ons hier raakloop. Reeds in die ander Bybeltekste oor die gawes is daar al ‘n klompie “nuwe” gawes ter sprake.


In ons dag sien ek tonne mense, wat nuwe gawes van die Gees ontvang om vandag se vrae aan te spreek. Ek sien rekenaarkundiges, wat hul talente tot gawes in die Here se diens omskep. So ook klankmanne, kameramanne, vlieëniers, vervoerkontrakteurs, wetenskaplikes en noem maar op - almal eietydse begaafdhede deur die Gees, wat nog nie in Paulus se dag op die toneel was nie. Hoe wonderlik dat die Gees in ons eie tyd steeds voortgaan met Sy groot werke.


Gebed:

Heilige Gees, stort u goedheid ruim uit op unieke maniere hier in ons eie dag. Amen.

bottom of page