Nie ‘n ontsnappingsroete nie
top of page

Nie ‘n ontsnappingsroete nie


Lees 2 Korintiërs 5:1


Die Here is nie besig om ons in watte toe te draai met die oog op die nuwe wêreld, wat Hy vir ons voorberei nie. Hy wil ons nie hier wegkry nie. Inteendeel. Hy wil hê ons moet juis hier ‘n lewensgrote verskil maak. Daarom is dit jammer dat vele gelowiges se wederkomsverwagtinge hulle werklikheidsvreemd gemaak het. Baie het deur die eeue skisofrenies begin leef met een stel waardes vir die kerk en ‘n ander een vir “die regte wêreld”.


Dis jammer dat party mense binne geloofskringe so haastig is om hulle aardse tente te verlaat in ruil vir hul permanente hemelse gebou dat hulle glad nie omgee oor wat in die wêreld gebeur nie. Dit hoort nie so nie, want dis nie Paulus se punt in 2 Korintiërs 5 om wêreldvreemdheid onder Christene aan te moedig nie. Nee, sy punt is dat Christene juis oor die toekoms kan ontspan, omdat Jesus dit kant en klaar uitgesorteer het. Ons toekoms is gewaarborg. Die Gees staan hiervoor in. Daarom kan ons feestelik leef en sowel swaarkry as voorspoed tot eer van God verduur. Ons kan veel meer sorgvry as die res van Moeder Aarde se bewoners leef, omdat die Gees in en rondom ons is. Ons kan ander mense met radikale oorgawe dien en saamnooi na ons nuwe toekoms toe. Ons kan sorg dat die Here se feesmaal nog voller word. Nee, ons moet!


Gebed:

Dankie vir U mooi wêreld, Here. Leer my om elke dag hier ‘n verskil te wees. Amen.

bottom of page