’n Bos blomme vir jou
top of page

’n Bos blomme vir jou


Lees gerus 'n nuwe artikel deur Alet Gardner "’n Bos blomme vir jou"
’n Bos blomme vir jou

Die prentjie is jare later nog glashelder: my dogter, wat onverwags by die voordeur opdaag met ‘n bos enorme wit rose. Nodeloos om te sê, was ek in trane.


Dit het my laat terugdink aan die tyd toe ‘n vriendin en haar man finansieel baie swaargekry het. Ek het geweet dat ek sommer net vir haar ‘n bos blomme moes neem, maar het gehuiwer – sê nou net haar man voel geaffronteer daardeur. Dit was nogal ‘n teleurstelling toe ek ‘n dag of wat later hoor dat iemand anders haar met ‘n ruiker bederf het. Ek self het die seën van gee gemis!


Jakobus moedig ons aan om goed te doen, wanneer ons sien dat daar ‘n behoefte is, om iets vir iemand te doen, wat dit nodig het. Terwyl ‘n mens nie kan sê dis sonde om nie dankie te sê nie, glo ek dat ons baie seën so kan mis. Ons lewe is deesdae so gejaag dat ons vergeet om dankie te sê: vir daardie winkelassistent, wat ekstra moeite gedoen het; vir die vriendelike diens by ‘n restaurant; ‘n spesiale kaartjie vir my ouers om dankie te sê vir die liefde en opoffering, waarmee hulle my grootgemaak het.


Dit laat my dink aan die Facebook-boodskap, wat ek eendag uit die bloute gekry het: “Jy het 20 jaar gelede vir my gehelp om by die regte berader uit te kom, toe ek dringend hulp nodig gehad het.” Hierdie boodskap van waardering was vir my oneindig kosbaar en ook geloofsversterkend.


My dierbare pa, wat ons geleer het om blomme te gee, terwyl iemand lewe, het my meer as een keer met ‘n kuier verras. Toe ek al ‘n huis vol kinders gehad het, het ek op ‘n dag baie verlang na Pa en daar was geen moontlikheid dat ons die dagreis kon aanpak om te gaan kuier nie. Wat ‘n heerlikheid om by die venster uit te kyk en te sien hoedat hy en Ma voor die deur stop, heeltemal sonder seremonie, sommer net!


Gee liewer vir iemand blomme, terwyl hy leef, as om dit op sy graf te sit.

- Danie de Jager

bottom of page