Aan wie se kant is God?
top of page

Aan wie se kant is God?


Siegfried Louw vra in sy nuutste My Lewe nuusbrief aan wie se kant is God?
Aan wie se kant is God?

Al lyk sportbyeenkomste by skole deesdae anders, weet jy sommer gou-gou watter ouers is aan watter skool of span se kant. So van anderkant die heining moet hulle skree. Vlae, pette en krete verseker ons aan wie se kant watter ouers is. Af en toe is ‘n mens dankbaar vir die fisiese afstand wat mense moet handhaaf, want nie al die ouers lyk asof hulle hulself kan inhou wanneer nodig nie.


Dit is gewoonlik vir ons belangrik om te weet waar mense hulself skaar. ʼn Christenvriend van my het sy profielfoto op Facebook verander, sodat almal kan weet hy skaar hom tans aan die kant van die mense van Palestina. ʼn Ander Christenvriend het haar vereenselwiging met Israel ook op Facebook verklaar. Dit is ontstellend om te sien hoe mense in die gewelddadige konflik deurloop.


Mense vlieg mekaar in die hare, want vir baie is dit belangrik dat ons moet onthou aan wie se kant God is. Ons het dit ook in verlede jaar se verkiesing in die VSA gesien. Plaaslik maak leiers ook graag uitsprake oor “aan wie se kant God” is. Selfs kerke plaas hulleself soms teenoor mekaar, omdat God kwansuis meer aan die een se kant is as aan die ander een sʼn.


Dit is nie ʼn nuwe ding hierdie, om te wil weet aan wie se kant God is nie. Wanneer Josua gereed maak om die land Kanaän in te neem, pyl hy trompop op ʼn hemelse bevelvoerder af. Josua is slaggereed om die volk te lei, noudat hy Moses as leier moet opvolg. Hy besef nie die bevelvoerder is eintlik ʼn engel nie.


“Aan wie se kant is jy?” wil Josua weet. “Ons kant, of die vyande se kant?”


Josua 5:14 - 15 (Die Boodskap): “Nie een van die twee nie,” antwoord hy. “Ek is die bevelvoerder van die Here se leër.”

Josua het uit eerbied diep voor die man gebuig en gesê: “Ek is tot u diens. Wat wil u vir my sê?”

Die bevelvoerder van die Here se leër sê toe vir Josua: “Trek uit jou skoene, want jy staan op ’n plek wat aan die Here toegewy is.”

En Josua het dit gedoen.


Ons vra graag: “Aan wie se kant is God?” En gewoonlik dink ons ons weet ook sommer wat die antwoord is.


Maar die boek Josua draai vir ons die vraag om. Die vraag is eerder: “Aan wie se kant is jy? Is jy aan God se kant?”


“God is liefde juig ons harte

en bedink wat liefde doen:

Dat Hy ons Sy seun gestuur het

om ons sonde te versoen.” So sing ons die woorde van die ou bekende lied. Ons hoef nie te wonder oor wat dit beteken om aan God se kant te wees nie.


Het ék lief? Bring ék versoening?

bottom of page