My Hemelvader – die volmaakte rolmodel
top of page

My Hemelvader – die volmaakte rolmodel


The enemy knows that if he can crack up the concept of father, breaking up our relationships with our earthly dads, then he can create a stumbling block that some people will never be able to overcome in their relationship with Almighty God. – Louie Giglio

Ek sal nooit die dag vergeet toe ek uit ons plaaslike supermark gestap kom en ‘n pa en twee jong kinders verby sien stap het nie. Eintlik het ek die groepie hoor stap, want die pa was besig om sy ongeveer 9-jarige seuntjie luidkeels op die mees vernederende manier verbaal te mishandel. Watter effek moet dit nie later op die kind se beeld van God as Vader hê nie?!


Sommige van ons is geseën met ‘n aardse pa, wat iets van God se Vaderbeeld uitleef. My eie pa het maklik vir ‘n voornemende skoonseun met die ouers-vra geleentheid kon sê: “Hierdie is die appel van my oog. Pas haar mooi op.” Wanneer dit nodig was om een van sy kinders ‘n pak slae te gee (in die tyd toe ouers dit nog mog doen) jou in sy arms te neem en te troos met: “Onthou, ek is baie lief vir jou. Dit maak my net so seer om jou te moet straf, wanneer jy ongehoorsaam is.”


Die liefde en positiewe voorbeeld van ‘n wyse aardse pa gaan nie net sy jong kinders geborge laat voel nie, maar ook sy volwasse kinders in hul eie lewenskrisisse staande help hou. Daarom lê daar ‘n groot verantwoordelikheid op ons as kerk en ons as individuele Christene, om pa’s te ondersteun en te bemoedig – manne in elke stadium van hulle lewe. Sodoende kan kinders soveel makliker met vrymoedigheid op ‘n dag die besluit neem om God hulle Vader te noem.


As ekself dalk as gevolg van ‘n gebroke verhouding met my aardse pa voel dat ek God nie as Vader kan of wil vertrou nie, is die uitnodiging daar om antwoorde by Hom self te kom soek. Hy is ‘n betroubare Hemelvader, wat met oop arms vir my en jou wag. Hy is nie net ‘n groter weergawe van my aardse pa nie, Hy is die volmaakte weergawe van my aardse pa. Hy sal my ook leer en in staat stel om my gebroke aardse pa sy foute en tekortkominge te vergewe.


Daarom kan ek met vrymoedigheid begin met die proses om my aardse pa te vergewe. Ek kan die Here vertrou om die genesingsproses van die pyn en verwerping te begin, om die leemte in my te vul met Sy liefde en met totale geborgenheid in die liefde van my volmaakte Vader. Dan sal die dag kom dat ek saam met Johannes in verwondering kan juig:


Kyk net hoe ‘n groot liefde die Vader aan ons betoon het. Dit is dat Hý ons Sy kinders noem en ons is dit beslis ook. – 1 Johannes 3:1
bottom of page