My geloof bepaal my wêreldbeeld
top of page

My geloof bepaal my wêreldbeeld


Die Amerikaanse leierskapkenner, Max de Pree, sê dit is leiers se eerste verantwoordelikheid om die werklikheid helder en duidelik vir hulle volgelinge te definieer. In sy eie woorde: “The first responsibility of a leader is to define reality. The last is to say thank you. In between the leader is a servant.” Om duidelikheid te hê oor jou wêreldbeeld, is lewensbelangrik. Jou wêreldbeskouing bepaal immers jou identiteit, asook jou manier van leef. Dit bepaal hoe jy dink en teenoor God, jouself, ander mense en ook teenoor die omgewingoptree. Jou wêreldbeeld is jou enjinkamer, wat jou gedagtes, gevoelens en dade bepaal.


Paulus het die term “wêreldbeeld” baie goed verstaan. Hy was en is steeds een van die grootste leiers, wat ooit op aarde in die Here se diens was. Daarom het hy goed geweet hy moet gelowiges se wêreldbeskouings helder en duidelik omlyn. Gedurig in sy briewe is hy dus besig om ons as navolgers van Christus se nuwe identiteit te omskryf. Hy leer vir gelowiges vanuit verskillende hoeke dat ons identiteit in die kruis gesetel is. Ons hoor gedurig by hom ons is nuwe mense, omdat ons saam met Christus gekruisig is (bv. Romeine 6; Kolossense 2). Ons leer dat ons eie geskiedenis, vanaf ons geboorte tot anderkant die dood onlosmaaklik met dié van Christus ineengestrengel is. Hierdie nuwe bestaan in Hom is die bril waardeur ons kyk na die lewe kyk. Christus bepaal hoe ons leef. Christus se roete van opoffering en oorwinning is ons s’n. Sy liefde, vrygewigheid en diens is ons koersaanwysers. Daarom leer ons om saam met Paulus te sê dat Christus ons lewe is en dat ons vir Hom leef en sterf (bv. Romeine 14:7-9; Filippense 1:21). Christus is die realiteit waarheen die Here ons almal vandag uitnooi. Ons identiteit en ons wêreldbeskouings word deur Syne bepaal, omdat ons Hom navolg. Wag, Christus is nie net ons wêreldbeskouing nie - Hy is ons hele wêreld. Hy is ons lewe, ons hoop, ons alles!

bottom of page