Moenie ’n geestelike dreigement wees nie
top of page

Moenie ’n geestelike dreigement wees nie


’n Klompie jare gelede het ’n paar humoristiese grafinskripsies, wat ek raakgelees het, my aan die dink gesit. Hier is ’n paar van hulle:

She lived with her husband fifty years and died in the confident hope of a better life.
Here lies my wife: Here let her lie! Now she's at rest. And so am I.”
Sir John Strange: Here lies an honest lawyer. And that is Strange.”

Terwyl ek die humor in hierdie grafinskripsies geniet het, tref dit my toe soos ’n weerligstraal uit die hemel dat ekself besig was om my eie grafskrif te skryf. Dit sou eendag as volg klink:

Hier lê ’n dooie dreigement. Lewenslank het hy net gedreig om iets vir die Here te doen. Nou is dit vir altyd te laat!

Jare lank wou ek graag nuwe dinge vir God doen. By elke kerkdiens het ek “alles op die altaar” geplaas. Ek het myself moedeloos op groot deurbrake gewag. Tussendeur het ek my ore uitgeleen aan almal, wat my gedreig het dat een of ander herlewing nog op pad is. Elke keer wanneer ek met al hierdie godsdienstige gewaggery ongeduldig geraak het, is ek daaraan herinner dat deurbrake op pad is. Maar dit was altyd net toekomstaal. Amper nooit het enigiemand in die teenwoordige tyd, in “the present tense,” oor die Here gepraat nie. Geestelike deurbrake was gedurig nog op pad.


Ekself het gedurig by ’n rooi geestelike verkeerslig in die kerk rondgehang, in die hoop dat dit eendag groen sou slaan. Dan sou ek ook groot dinge vir die Here begin doen. Maar toe tref die waarheid my soos ’n weerligstraal: daar is geen rooi verkeerslig nie! By die kruis het die lig finaal groen geslaan. Christus het al die rooiligte daar uit diens gestel. Die pad is nou oop vorentoe! Ek het besef dat ek jare lank foutiewelik in geestelike kwarantyn geleef het, terwyl ek aan my eie “dreigement”-grafopskrif geskryf het. Van toe af het dinge verander. Ek het besef die Heilige Gees is ook in my lewe uitgestort. Saam met ander gelowiges is ek sy lewende tempel, soos wat Paulus in 1 Korintiërs 3:16 leer. Ek het besef ek is reeds met alle geestelike seëninge in die hemel geseën, soos wat Paulus sê in Efesiërs 1:3. God is ook in my lewe met dieselfde krag aan die werk, as waarmee Hy vir Jesus uit die dood opgewek het, soos wat Efesiërs 1:19 my leer. Die hemele is lankal reeds oop. Van toe af gryp ek elke dag aan om voluit te leef vir die Here te leef. Doen asseblief dieselfde. Moenie net ’n geestelike dreigement wees nie.

bottom of page