Kom huis toe - alles is vergewe!
top of page

Kom huis toe - alles is vergewe!


Die bekende skrywer, Ernest Hemingway, vertel in “The Capitol of the World” van ‘n seun, genaamd Paco, wat na ‘n woordewisseling met sy pa pad gee uit sy ouerhuis. Later gaan die bedroefde pa orals in Spanje na sy kind soek, maar sonder enige sukses. Uiteindelik plaas hy ’n advertensie in ‘n dagblad in Madrdid, El Liberal,met die woorde: “Paco, meet me at Hotel Montana. Noon Tuesday. All is forgiven.” Maar die pa was nie voorbereid op die reaksie, wat sy advertensie tot gevolg sou hê nie. Op daardie einste Dinsdagmiddag het 800 seuns met die naam Paco by die hotel opgedaag!


Ons almal is honger vir vergifnis, God S’n! Hy het ons gemaak om te honger na Sy hemelse aanraking. Ons is immers Syne. Ons dra Sy handtekening. Hy het ons gemaak na Sy beeld en na Sy gelykenis. Nie eens die hardste krapmerke van die sonde kan dit ooit uitwis nie. Die kerkvader, Augustinus, het dit goed begryp. Daarom skryf hy in sy beroemde outobiografie: “Here, U het ons vir Uself gemaak en ons hart is rusteloos totdat dit rus in U vind!” Augustinus het geweet daar is ’n groot God-nood diep in ons elkeen verpak. Ons is rusteloos totdat ons tot rus by die Here kom. Ons honger en dors na Hom. Die ewe goeie nuus is dat God nooit met ons opgee nie. Hy hou ons altyd binne Sy genadevisier. Die Here ken ons koördinate. Sy hemelse GPS is haarfyn ingestel op ons doen en late. Wegkomkans is daar nie, want Jesus het reeds die pad gelyk na ons kant toe gelyk gemaak. By die kruis het Hy al ons gemors en al ons sondes op Sy eie skouers gelaai. Daar het Hy dit afbetaal. Ons moet maar net ons ore oopmaak. Ons moet opnuut by Hom hoor: “Kom huis toe. Alles is vergewe!” Om dit te glo, is om hemelse rus in ons lewens te ervaar.

bottom of page