God het geen kwotastelsel in plek nie
top of page

God het geen kwotastelsel in plek nie


God is nie soos ons nie. Hy het geen kwotastelsel vir vergifnis in plek nie. Anders gesê, nie een van ons het ooit so ver geval dat Jesus ons nie nogmaals kan in Sy greep van genade kan vang nie. Nie een van ons is ooit buite die reikwydte van Jesus se aanraking nie. Nooit bevind ons onsself buite die bandwydte van hemelse vergifnis nie. Vra vir Petrus. Volgens Matteus 18 het hy gemeen sewe keer se vergifnis vir oortredings teenoor mekaar, is ruim. Die godsdienstiges van sy dag het immers geglo drie maal is oorgenoeg. Dan was dit “game, set and match.” Daarna mag kwaad maar met kwaad vergeld word. Toe verras Jesus hom met ‘n nuwe hemelse formule: sewentig maal sewe, ad infinitum, oneindig, vir altyd en aanhoudend! So werk vergifnis teenoor ander mense. Presies so werk hemelse vergifnis ook. God hou nie boek as dit by vergifnis kom nie. Hy tel nooit hoeveel keer jy Hom om vergifnis kom vra het nie. Hy het eerlikwaar nie ’n kwotastelsel vir vergifnis nie.


God is oneindig goed en eindeloos genadig. Dit is wie Hy is. Hy het ons lief ten spyte van wie ons is en wat ons doen. Hy het ons eerste lief. Hy het ons al die pad lief. Hy het ons vir ewig lief, selfs al breek ons Sy hart. Nee, dit beteken nie Hy het aan ons ‘n lisensie gegee om in sonde rond te lê nie. God se ruim vergifnis is nie ‘n vrypas tot sonde nie. As ons wel die slag die pad byster raak, dan moet ons weet Jesus spesialiseer in droogmakers en struikelendes. Hy bring graag genadebedelaars se saak voor God in die reine. Hy begin graag oor met ons. Daarom nooi Hy ons opnuut na Hom toe uit. Christus se oop arms van genade is vandag vir ons bedoel.

bottom of page