Maskers
top of page

Maskers


In hierdie My Wêreld nuusbrief bespreek Roedolf Botha hoe 'n Jesus-perspektief vir ons 'n baie gesonde en positiewe uitwerking op ons hê tov die maskers wat ons tans dra.
Maskers

Ewe skielik, vanaf ‘n paar maande gelede, word ons samelewing gekenmerk deur die dra van maskers. Dis maskers net waar jy kyk: in winkelsentrums, in die strate, in kantore en selfs in die kerk. Die nuutste opnames wys dat maskers grootliks ‘n negatiewe uitwerking op ons menslike psige uitoefen. Mense beweer dat hulle van die res van die mense afgesny voel. Mense raak al hoe meer depressief, omdat die vlak van verbintenis nie meer so hoog is nie. ‘n Mens kan nie meer ander mense se gevoelens en gemoedstoestand so goed op hulle gesigte waarneem nie. Ander se emosies is nou vir ons verberg. Ons moet byvoorbeeld baie fyner probeer kyk na die plooie rondom iemand se oë om te sien of hulle vir ons glimlag of nie.


Dis egter alles ‘n kwessie van perspektief. Met ‘n verfrissende Jesus-perspektief kan maskers ook ‘n baie gesonde en positiewe uitwerking op ons hê, indien ons bereid is om te leer en dieper te kyk na hierdie vreemde tyd waarin ons leef. Alhoewel Covid-19 geen pretuitstappie was tot nou toe nie, is ons besig om baie verrykende insigte hieruit te kry.


Covid was myns insiens ‘n groot gelykmaker. Wanneer almal met maskers rondloop, herinner dit ons daaraan dat ons álmal kwesbaar en sterflik is. Die virus diskrimineer nie. Dit besmet nie slegs blankes, mense van kleur, rykes of armes nie. Álmal, sonder uitsondering, moet maskers dra. Ons is almal gelykes onder mekaar. Dit wys vir ons dat ons as Suid-Afrikaners (en wêreldlinge) baie meer in gemeen het as wat ons baie keer geneig is om te dink. Dit dui op ons solidariteit, ons gemeenskaplike sterflikheid. Ons het mekaar nodig. Ek dra die masker ter wille van jou en jy dra dit ter wille van my. Ek kyk uit vir jou en jy ook vir my. Met Covid deel ons in dieselfde omstandighede en deel ons eintlik in mekaar se medemenslikheid. Alhoewel ons nie almal ekonomies in die dieselfde bootjie was of is nie, het die laaste paar maande ons wel gewys dat Suid-Afrikaners dalk meer in gemeen met mekaar het as dit wat ons van mekaar skei. Niks kan mense met verskillende agtergronde en omstandighede so saambind as om ‘n sak sout saam op te eet nie. Corona, die pandemie en ons maskers kan dien as ‘n brug na mekaar toe.


Ons het egter nie net mekaar nodig nie. Ons het veral Iemand sterker as onsself nodig. Ons het nodig dat daardie sterker Persoon na ons toe kom. Ons het nodig dat Hy ons pyn, ons virusbesmette wêreld binnekom, dit saam met ons voel en ons die versekering gee dat Hy by ons is en dat die wêreld uiteindelik heel sal wees.


Wanneer jy dus môre jou masker opsit, oor jou deurdrumpel stap en jou begewe in ‘n wêreld van maskermense, onthou dat Iemand inderdaad hierdie viruswêreld van ons binnegekom het en dat Hy vandag nog met ons is, dat Hy ons liefhet en dat Hy besig is om die wêreld te red.


bottom of page