Luister na die kinders!
top of page

Luister na die kinders!


Netflix het ons lewens in die Covid-tyd aansienlik verander. ‘n Mens kan kwalik ‘n dag by die werk deurbring sonder dat twee mense met mekaar praat oor die nuutste “series”, wat hulle tans besig is om op Showmax of Netflix te kyk. Ek is een van hulle. Ek bly maar ‘n sucker vir wetenskapsfiksie en een so ‘n reeks, wat ek pas klaar gekyk het (wel, daar is nog net drie seisoene oor), is Stranger Things. Dié reeks bevat seker nie die beste storielyn of die mees omvattende karakterontwikkeling nie, maar dit het my nietemin tot die einde toe vasgenael gehou, iets wat ander reekse nie dikwels regkry nie. Tipies van wetenskapsfiksie, beskik Stranger Things ook oor onder andere die volgende kenmerke:

  • Daar is bose buite-aardse wesens, wat ‘n spesifieke klein dorpie se voortbestaan bedreig. Dis nie duidelik of hierdie wesens werklik ‘n buite-ruimtelike oorsprong het of nie. Wat wel duidelik is, is dat hulle vreemd, magtig en misterieus is.

  • Natuurlik is daar dan ‘n groepie mense, wat hierdie magte raaksien en hulle moet teenstaan. Dus is daar ‘n lewe-en-doodgeveg tussen die bose en die goeie op ‘n intens kosmiese vlak aan die gang.

Daar is egter een uitstaande kenmerk van hierdie reeks, wat my sterk aan die evangelie herinner. Dit is die feit dat die groepie mense, wat hierdie gevare aanvanklik waarneem en verstaan, eerstens ‘n uiters skraal en klein groepie individue is. Die tweede kenmerk van hierdie klein groepie is dat hulle almal kinders is. Dis opmerklik dat dit die kinders is, wat die verbeelding en openheid het om die werklikheid van die bonatuurlike en die bose magte op te merk. Aanvanklik is die ouers en ander volwassenes uiters skepties, alhoewel sommige van hulle darem ook later – as gevolg van die invloed van hulle kinders – tot die stryd toetree. Stranger Things is natuurlik nie die eerste storie, wat kinders as die helde uitbeeld nie. Heelwat goedvertelde stories in ons moderne geskiedenis wil vir ons wysmaak dat jongmense gereeld diegene is, wat ‘n groot verskil kan maak. Dink maar aan die kinders in die Narnia-verhale van CS Lewis, JK Rowling se Harry Potter en die kinderlike hobbits in Lord of the Rings.


Dit laat ‘n mens nogal daaraan dink dat Jesus mense gemaan het om nie die kindertjies te verhinder om na Hom toe te kom nie. Vir Jesus het kinders van die begin af in die gemeenskap van gelowiges behoort, waar hulle kan deelneem aan die belangrikste gesprekke van die lewe. Dit het met meer te make as dat die kinders maar bloot ontvangers van God se genade is en om hierdie rede ingesluit behoort te word. Nee, die samelewing en die gemeente het kinders nodig, omdat kinders iets van die geloofslewe self weerspieël. Daar is dinge wat ons by kinders moet leer.


“As julle nie verander en soos kindertjies word nie ...” (Matt. 18:3)


Hierdie woorde van Jesus gaan nie oor naïewe geloof, soos baie mense graag wil beweer nie. Sulke mense dink alewig dat ons geloof vlak en oppervlakkig behoort te wees. Nee, dit gaan oor iemand se gevoel van belangrikheid in die Koninkryk. Moenie soos die dissipels probeer belangrik wees nie. Wees bereid om ondergeskik te wees soos ‘n kind, wat nog geen ekonomiese bydrae tot die samelewing lewer nie. Sien, gevoelens van selfobsessie en eie belangrikheid maak ons blind vir God se dinge. Kinders, vanuit hulle eie ondergeskikte posisie in ons wêreld, sien dinge anders as ons. Hulle sien dinge raak, wat ons nie raaksien nie. Ons het kinderoë nodig om God raak te sien en sommige geestelike dinge reg te verstaan. Ons het kinderverbeelding nodig om vas en diep genoeg in Jesus te glo. Ons het kinder-opregtheid nodig, wat nie besmet is met ons eie volwasse veronderstellings oor hoe dinge behoort te wees nie.


Dit beteken natuurlik nie dat ons geloof onvolledig en ons teologie oppervlakkig moet wees, soos ‘n kind s’n nie. Nee, ons moet inderdaad volwassenheid in ons insig en karakter nastreef. Daar is trouens vandag ‘n politiese stroom, wat geheel en al te veel mag wil toeken aan kinders. Dis net so ongesond. Net soos volwassenes moet kinders hulle plek in God se groot plan vir Sy mense ken.


Daarom moet ons die leiding van die Gees van Jesus volg, wanneer Hy ons lei om ons teologiese spiere te oefen, sodat ons die kompleksiteit en ingewikkelde vrae van die lewe soos grootmense kan hanteer. Hierdie selfde Gees sal ons egter ook gereeld na die fantasiewêreld van kinders lei. Daar is iets van die Goeie Nuus van Jesus wat slegs kinders ons kan help om te verstaan. Om waarlik volwasse te wees, is om te besef en te erken dat daar ‘n deel van ons is wat kinderlik moet bly, sodat ons Jesus nie in belangrike dele van ons lewe mis nie.


Die stemme van kinders kan soms die leiding van die Heilige Gees wees, al klink dit soms vir ons na stranger things.

bottom of page