Luister meer, praat minder
top of page

Luister meer, praat minder


Stephan Joubert gee ons 'n Bybelse roete om meer te luister en minder te praat in hierdie Goeie Nuus.
Luister meer, praat minder

My ma het dit graag gesê, al my onderwysers ook. Gereeld sê mense dit ook vir mekaar. Ek praat van daardie woord “luister!” - ek bedoel daardie “luister” met ’n groot uitroepteken. Aanhoudend word ons daaraan herinner dat ons na die Here en na mekaar moet luister. Dit is ook reg so. Om te luister is broodnodig. Stilte en heilige eerbied voor die Here is lewensbelangrike geestelike dissiplines, wat in ons lewens aanwesig moet wees. Tog sukkel ons hiermee. Ons bly nie so maklik stil om na die Here te luister, as wat ons graag wil voorgee nie.


Saam met heilige stilte in die Here se teenwoordigheid, moet ons onsself ook inspan om ’n wag voor ons mond te plaas tussen ander mense. Ons moet meer oop-ore en toe-mond deur die lewe gaan, as andersom. Om stil te bly as almal se emosies hoog loop, is ’n wyse roete. Dit werk elke slag. Om twee keer te dink voordat kwaai of dwase woorde oor ons lippe ontsnap, is die regte pad. Luister eers goed na mense. Luister meelewend. Praat dan opbouend. Praat woede en dwaasheid uit die pad. Dit is die Here se goeie roete.

bottom of page