Lente
top of page

Lente


So met die lente in die lug en die bietjie somerhitte, wat ons beleef, voel dit altyd dié tyd van die jaar dat ek vir soveel dinge wil dankie sê. Ek is glad nie ‘n wintermens nie. Ek hiberneer, sit onder ‘n kombers, is onaktief, doen net wat ek moet doen en hoop die res sal sommer self gedoen word. Die oomblik wat die bome begin bot en die helder groen blare verskyn, voel dit asof daar skille van my lyf afval. Ek ontwaak so saam met die lente. Ek ontvries.


Saam met hierdie wonderlike gevoel van lewe, wat in my opstoot, ervaar ek dankbaarheid. Diep dankbaarheid dat ek nog ‘n winter oorleef het, maar ‘n diep wete dat God die natuur in Sy hande hou en dat die siklusse van die aarde deur Hom instand gehou word.


Ek lees in Filippense 4:4: “Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly!” Toe ek hierdie vanoggend lees, het ek so ‘n bietjie skaam gekry. In my eie hibernering was ek nie altyd bly deur die winter nie. Ek kla en mor oor die koue, ens. As ‘n mens nog beurtkrag en die misdaadsituasie byvoeg, is daar meer as genoeg dinge om oor te kla en nog swartgallig te wees ook.


Paulus roep ons op tot vreugdevolle dankbaarheid. Ek weet ek staan eerste skuldig voor die Here. Ons het werklik nog so baie om voor dankbaar te wees. As ek net na die natuur kyk, jubel ek van dankbaarheid. Voor nuwe lewe kan spruit, moet daar eers rus en koue in die natuur wees vir alles om nuut te groei. Ek staan verstom oor die kleure van die nuwe seisoen en die uitbundigheid van die voëls se vroegoggend gekwetter.


Ek herinner my ook hoe Paulus in die tronk sit en die Here loof te midde van al sy swaarkry. In Handelinge 16 lees ons waar Paulus en Silas lofliedere in die tronk gesing het. Ons lees dat die ander gevangenes na hulle gesit en luister het. Ek probeer vir myself die prentjie in my kop skep. ‘n Tronk, vuil, haglik, vol rotte en swaarkry, máár Paulus en Silas sing lofliedere! Wat ‘n belewenis moes dit nie gewees het nie. Selfs die tronkdeure antwoord daarop! ‘n Aardbewing skeur die aarde, die tronkdeure beur oop en die tronkbewaarder wil uit vrees op sy swaard val omdat al die gevangenis ontsnap het. Die wonderlikste van alles is dat die tronkbewaarder die Here in hierdie vreemde dog, Goddelike vreugdevolle oomblik in ‘n tronk vind.


Ons kry nie regtig swaar nie. Ons leef in weelde teenoor die tronk in Filippi. Ons kry nie regtig koud nie - ons het genoeg warm klere en komberse. Ons ly nie honger nie - ons het ‘n spens en ‘n tweede yskas in die garage. Ons het genoeg klere, ons het ‘n winter- en ‘n somerkas met klere. Ons het genoeg, ons kom niks kort nie, sê Ps. 23.


Kom ons kyk met uitbundige vreugde na vandag, die lewe en die jaar, wat voorlê en leef ‘n lewe van dankbaarheid. Kom ons volg Paulus se voorbeeld en leef bly, dit maak nie saak wat ons omstandighede is nie. Kom ons jubel die tronkdeure van die lewe van ons skouers af en leef ‘n dankbaarheidslewe, wat sigbaar vir ander is. Kom ons inspireer ander, wat swaarkry, met ons lewens.


“Wees altyd bly in die Here. Ek herhaal: Wees bly!”

bottom of page