top of page

Deur watter bril kyk jy na jouself en ander?


Tydens ‘n onlangse vakansie pak ek my sak langs my swembadstoel en sien ‘n lens van ‘n sonbril op die stoel lê. Ek sê vir my man: “Siestog, iemand se sonbril se lens het uitgeval.” Hy reageer toe deur vir my te sê dat ek my sonbril moet afhaal en daarna kyk. Groot was my verrassing toe ek sien dat ek net een lens in my sonbril het. Ek weet glad nie vir hoe lank ek so deur die een sonbrillens gekyk het nie!


Terwyl ek so eenogig na die wêreld gekyk het, het ek glad nie agtergekom iets is verkeerd nie. Alles het vir my doodreg gelyk. Dalk kyk ek en jy soms na mense deur ‘n stukkende bril en veroordeel hulle. ‘n Mens sien miskien op hulle neer, omdat hulle dalk nie so geleerd, ryk, of modieus is nie, of dalk ‘n ander velkleur as jy het.


Dalk kyk jy met ‘n bril, wat toegewasem is, na jouself. Jy voel miskien skaam oor al jou sonde. Dalk voel jy minderwaardig en nie goed genoeg nie. Soms voel dit vir jou asof jy nie die paal haal nie. Jy vergelyk jou dalk met die Van der Merwes van langsaan en voel jy kan nie by hulle kers vashou nie. Vals beelde van sukses en skoonheid in die media wil jou laat ineenkrimp.


Die skrywer Bob Goff sê: If you find yourself believing that God stacks all your successes on one side of a scale and your failures on the other to measure how you’re doing, remember that the only curve He grades on, always tips to His extravagant and inexplicable love. God het vir jou en my onuitspreeklik lief!


Hoe kyk God na ons? Hy sien ons deur die bril van Sy Seun se bloed. In Efesiërs 1:4 lees ons: Omdat Hy ons lief het, het Hy ons al, voor die wêreld gemaak is, uitgekies om sonder foute Syne te wees. In vers 7 staan daar: Deur wat Christus gedoen het, is oortredinge vergewe.


As gevolg van God se liefde en Jesus se kruisdood, staan ek en jy nou foutloos en geliefd voor die Here. Ons kan ‘n oorwinnaarslewe lei en hoef ons nie aan wêreldse standaarde te meet nie. Nou moet ons egter ook deur God se bril na ander mense kyk . Ons moet hulle ook nie meet en weeg nie en hulle liefhê met Jesus se liefde. Mag God ons die genade gee om na onsself en na ander in liefde te kyk.

Kommentare


bottom of page