Leierskap in ‘n (post-) Korona wêreld
top of page

Leierskap in ‘n (post-) Korona wêreld


Roedolf Botha en Ivor Swarts skryf in hulle nuutste Leier Nuusbrief hoe leierskap moontlik gaan lyk in 'n post Korona wêreld
Leierskap in ‘n (post-) Corona wêreld

Dis al ‘n cliché. Almal sê dit. Niks gaan ooit weer dieselfde wees nie. Alles gaan anders wees. Dit weet ons nou al. Maar wat my frustreer is dat niemand praat oor presies wát anders gaan wees nie. Dalk is dit omdat ons self nog nie presies weet nie. Daar is egter beslis een saak wat meeste kenners oor eens is, wat anders gaan wees as vantevore, en dit is leierskap. Besigheidsleiers praat al lankal – reeds voor die huidige pandemie – van transformasie-leierskap, dit wil sê, leierskap wat fokus op nodige areas van transformasie in ‘n bepaalde organisasie. Ten spyte hiervan het almal voor Covid-19 nog steeds probeer lei asof daar ‘n duidelike kaart is waarvolgens mens behoort te lei. Nou het alles egter nóg vinniger versnel as wat verwag is!


Gemeentenavorser en leierskapskenner, Tod Bolsinger, beweer dat ons alreeds die laaste paar jaar ‘n skuif begin sien het wat bloot geïntensifiseer is met die Covid-19 pandemie. Ons leef tans in so ‘n onvoorspelbare wêreld dat ons vir die eerste keer moet lei asof ons nie meer ‘n kaart van ons omgewing het nie. Ons lei in ‘n ongekarteerde wêreld, soos wat die voortrekkers destyds die onverkende dele noord van die Kaap, moes deurreis en ‘n nuwe kaart moes saamstel van daardie ongerepte bosveld, woude, berge, riviere en mere. Ons gaan letterlik moet lei asof ons nie weet waar ons vanaand gaan oorslaap of watse terrein ons môre gaan teenkom nie. Én ons gaan ons mense moet gewoond maak aan so ‘n wêreld. Die behoefte het geskuif vanaf ‘n op-die-kaart-leierskap, na ‘n af-van-die-kaart-af leierskap. Ons het geen GPS hiervoor nie. Soos Frodo Baggins van Lord of the Ring-faam, kan leiers slegs sê:


I’ll take the ring but I don’t know the way.


Hoe lei ons ons mense in sulke tye waar ons mense verslaaf is aan sekerhede en duidelik beplande stappe vorentoe? Kenners op die gebied van transformasie-leierskap beweer dat daar drie noodsaaklike elemente is benodig word vir ‘n af-van-die-kaart-af leierskap:


1. Verhoog jou aanpassingskapasiteit.

Die enigste konstante van die toekoms sal verandering wees. Slegs mense met ‘n gesonde pioniersgees sal met vervulling kan leef in sulke omstandighede. Mense wat nie kan aanpas nie gaan uiters swaar kry en sal totaal en al van die skerms af verdwyn omdat hulle nie sinvolle leiding sal kan bied in ‘n veranderende wêreld nie. Ons kan nie meer rigiede mense wat nie wil saam beweeg bloot akkommodeer nie. So sal ons hulle nie help nie. Hulle gaan eenvoudig móét saam verander. Ons sal hulle moet oortuig, vir hulle eie beswil. Dit beteken dat mense hulle eie frustrasietoleransie sal moet verhoog. Dis moeilik vir middelklas-tot-ryk mense wat gewoond is daaraan om hulle eie gemak te koop. Binne-in geloofsgemeenskappe beteken dit dat ons mense gaan moet oplei vir storms en nie vir veilige hawens nie. Ons sal mense moet help verstaan wat die dinge is wat hulle aan kan vashou – die dinge wat nooit verander nie – en die dinge wat die hele tyd gaan verander. Vir ‘n Jesus-volgeling is die enigste ding wat nooit sal verander nie, God in Jesus Christus. Selfs ons verhouding met God is dinamies en sal verander. Ons verstaan en belewenis van God sal verander. God self sal egter nie, en daarom sal Hy ons enigste vaste staanplek kan wees. Ek weet ons sê dit al lankal: God is my Rots. Maar hierdie woorde sal nie ooit weer blote lippetaal kan wees nie. Slegs mense wat God alléén as hulle standvastige Rots beskou sal kan vorentoe beweeg met vreugde en vervulling. Ons sal aan God moet vashou, want die res...? Die res gaan verander.

2. Verhoog jou tegniese vaardighede.

Vaardighede benodig vir storms is anders as vaardighede wat benodig word in veilige hawens. In hierdie tyd word daar baie spesifieke bekwaamhede benodig wat nie so relevant was in die op-die-kaart-wêreld nie. Ons sal nuwe vaardighede moet aanleer, en ons sal mense moet ondersteun en motiveer om die nodige vermoëns te ontwikkel wat hulle nodig sal hê in ‘n tyd soos hierdie. Die mees voor die hand liggende vaardighede is digitale- en elektroniese vaardighede. Ons sal al ons mense moed uitdaag om op die lug te kom en gemaklik te raak met soveel digitale forums as moontlik. Ons gaan onsself moet ingrawe in die digitale, elektroniese, internet- en sosiale media-wêreld.


Nog ‘n kritiese vaardigheid wat drasties benodig word is vinnige, effektiewe en mobiele besluitneming. Soms gaan omstandighede van ons vinnige reaksies vra. Ons gaan nie elke keer ‘n volskaalse strategiese sessie kan hê of ‘n volledige ondersoek kan loods of alle stappe vorentoe kan bepaal voordat elke besluit geneem word nie. Ons gaan soms slegs ons Gees-begeleide intuïsie hê om op staat te maak. Dit beteken dat eksperimentering ons voorland is en dat ons meer ruimte gaan moet skep vir die maak van foute.


In ‘n wêreld waar leuens nog altyd teenwoordig was, is onderskeiding in vandag se fake news-wêreld absoluut essensieel en onontbeerlik. Mense gaan moet leer hoe om om te gaan met inligting en hoe om te bepaal wat werklik gesonde kennis is, en watter informasie met vrymoedigheid vertrou kan word.


Nog vaardighede is dinge soos om minimalisties of ten minste essensialisties te leef op ekonomiese terrein. Ons gaan moet leer om met so min as moontlik materiële dinge oor die weg te kom, sodat ons geld kan spaar en kan weggee, sodat ander kan eet en leef. Meer as dit. Ons gaan soos kunstenaars moet leer hoe om ons plekke steeds mooi en aantreklik te maak, skoonheid te skep met baie minder lewensbronne.


Ons gaan ook op filosofiese en teologiese vlak moet leer dink aangaande tegnologiese ontwikkeling en hoe ons ons met tegnologie wil omgaan. Hoe behoort ons eties om te gaan met tegnologie wat lewens gaan red op mediese vlak, maar mense werkloos gaan laat op arbeidsvlak? Ons gaan moet nadink oor die effekte van nano-tegnologie, robot tegnologie, transhumanism en die verbande daarvan met velde soos kognitiewe wetenskap. Ons gaan onsself moet toerus hiervoor en ons mense moet begelei na diep nadenke hieroor.

3. Verhoog die verhoudings-kongruensie.

Verhoudings is die groot stabiliseerder in hierdie tyd. Dis die gom wat alles vashou en saambind. Gesonde verhoudings is die een saak wat vir mense ‘n mate van stabiliteit sal kan bied. Alreeds ‘n paar jaar gelede is emosionele- en sosiale intelligensie geïdentifiseer as die belangrikste aanduider van sukses in 2020. Daarom sal leiers moet leer om hulle verhoudingsintelligensie te verhoog en mense te lei na eenheid in ‘n diverse omgewing en na stabiliteit in ‘n onstabiele wêreld. Ons gaan moet leer hoe om konflik te hanteer sonder om situasies op te blaas.


Die een area van emosionele intelligensie wat uitstaan in terme van sy belangrikheid is kulturele intelligensie. Dit gaan oor die vermoë om jouself binne-in die skoene van ander kulture te kan plaas, en om gemaklik en tuis te kan wees binne-in verhoudings met mense van ander etniese- of sosio-ekonomiese groepe.


Ons gaan ons mense moet help verstaan dat Jesus self ons GPS is. Hy is nie slegs ons Rigting-Gewer nie maar ons Rigting self. Hy alleen het op stormwater geloop en nooi ons om saam te stap.

bottom of page