• Roedolf Botha

Anti-kwesbaar


‘n Wind doof ‘n kers uit, maar laat ‘n vuur floreer.


Ons moet ‘n vuur wees, nie ‘n kers nie. So praat Nassim Taleb, ‘n populêre filosoof in sy boek Anti-fragile. Hy meen dat ons moderne samelewing die afgelope honderd jaar voor ‘n groot probleem te staan gekom het. Ons samelewing het vooruitgegaan in die ontwikkeling van die wetenskap en tegnologie. Dit het ons in staat gestel om ons lewens in te rig en te vorm volgens ons eie gemak en soos wat dit ons pas. Ons het die willekeurigheid van die lewe stelselmatig begin onderdruk deur dit voorspelbaar en ordelik te maak. Die paradoksale newe-effek was egter dat dit ons as individue, sowel as ‘n samelewing, kwesbaar gemaak het. Hoe so? Ons is kwesbaar, omdat ons nie meer die natuurlike onvoorspelbaarheid van die lewe kan hanteer nie. Die geringste klein skommeling in die ekonomie, styging in petrolprys, of nuusflits op die TV laat ons sommer in kouekoors uitslaan, om van iets soos Covid nie eers te praat nie. Die Corona-epidemie is die perfekte voorbeeld van die onvoorspelbaarheid van die natuur en lewe. Ons is veronderstel om hierdie dinge baie beter te kan hanteer, maar ons sukkel, want ons het innerlik sag geword weens die gemaklike wêreld, wat ons vir onsself gekweek het. Ons het kwesbaar geword. Ons word emosioneel en geestelike uiters maklik verwond. Ons beleef eenvoudige en natuurlike veranderinge sommer maklik as traumaties. Christene skynbaar ook. Ons is kerse, wat doodgewaai word deur die wind. Ons kan egter nie die wind weg wens nie. Die wind is natuurlik. Die wind is nodig. Óns moet eerder verander.


Die oplossing volgens Taleb is myns insiens ‘n baie Bybelse een (alhoewel hyself nie ‘n Christen is nie). Hy is van mening dat ons ‘n eienskap moet aanleer, wat hy anti-kwesbaar (anti-fragile) noem. Hiermee bedoel hy nie dat ons hardnekkig, gevoelloos en emosieloos deur die lewe moet gaan nie, maar dat ons innerlik sterk moet word. Ons moet vure word sodat, wanneer die wind waai, ons nie net die wind sal oorleef nie, maar sal floreer as gevolg van die wind. Trouens, ‘n vuur vra vir die wind. ‘n Vuur begeer die wind, want die wind laat dit hoër opvlam en groei tot ‘n reusagtige veldbrand. Erwin McManus vertel hoe sy klein seuntjie hom een aand gevra het dat Jesus hom moet veilig teen die duiwel moet hou. Sy antwoord was: “Nee, ek sal die Here eerder vra dat hy jou gevaarlik sal maak sodat die duiwel van jou af sal wegvlug.”


Ek dink aan die Bybel wat sê:


My broers, julle moet baie bly wees, wanneer allerlei beproewings oor julle kom, want, soos julle weet, as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard. En die volharding moet enduit volgehou word sodat julle tot volle geestelike rypheid kan kom, sonder enige tekortkoming. (Jak 1:2-4)

Ek dink ook aan Jakobus 4:8 wat sê:


Onderwerp julle dan aan God. Staan die duiwel teë en hy sal van julle af wegvlug.


Die probleem is dat ons eerder veilig wil speel en veilig speel kweek nie anti-kwesbaarheid nie, maar maak ons swak. Ons hanteer ons kinders ook so. Ons samelewing wemel van semi-neurotiese, oorbeskermende ouers, wat hulle arme bloedjies ten alle koste wil beskerm teen enige vorm van ongemak en emosionele ontsteltenis. Die uiteinde is dat vandag se jong geslag ‘n baie lae toleransie jeens ongemak of frustrasie openbaar. Sommiges raak skoon depressief as gevolg van die geringste dingetjie, wat skeef loop. Saam met Taleb sê die Bybel dat ons ‘n radikale kopskuif moet maak.


Ons moet onvoorspelbaarheid en ongemak so omhels dat ons mettertyd leer om as gevolg daarvan te floreer.


Let op die woordjie “omhels.” Omhels beteken meer as om dit net te verdra. Dit beteken dat ons besef en aanvaar dat ons saam met Jesus groei, vooruitgaan en deur middel van ongemak van krag tot krag gaan, net soos wat ‘n vuur in die wind floreer. ‘n Vuur verdra nie net die wind nie. ‘n Vuur groei in die wind, dit vra vir die wind, dit word die beste wat dit kan wees in die wind.


Omhels beteken ook nie dat ons die korrupsie en misdaad, wat saam met die ongemak gaan, goedkeur nie. Dit beteken egter wel dat ons onsself moet herinner dat die wêreld nog altyd so was en waarskynlik sal wees en dat Jesus se volgelinge nog altyd beter en sterker en anti-kwesbaar daardeur gekom het.


Jesus het immers die orkaan van Golgota van die begin af aanvaar, nie net as deel van sy lewe nie, maar as iets wat vir die welsyn van die wêreld moes gebeur. Daarom het Hy nie om Golgota probeer beweeg nie, maar intensioneel daarop afgestuur.


Vandag sit Hy, ‘n verterende vuur, aan die regterhand van God.