top of page
Writer's pictureRoedolf Botha

Beter Saam!


Een van die voordele daarvan om in Suid-Afrika te woon, is die rykdom van wysheid en tradisies wat daar in die groot verskeidenheid mense in die land is. Een van die mooiste voorbeelde is sekerlik die manier, wat die Zoeloes mekaar groet, Sawubona - ek sien jou! Wat ‘n opbouende manier om iemand met die aanbreek van ‘n nuwe dag te ontmoet! Nog ‘n wyse woord uit die skatkis van Afrika is:


As jy vinnig wil reis, reis alleen;

As jy ver wil reis, reis sáám met mense.


Geleerdes sê vir ons dat een van die redes waarom mense vandag op ‘n geestelike en psigiese vlak so siek is en uitval, is die individualisme van die tyd, waarin ons leef. Ook Jesus-volgelinge dink en leef individualisties. Ten beste bedoel ons goed, maar ten diepste gaan dit oor my en mý behoeftes. Verhoudings het weggooigoed geword. Ons ag dit nie meer as waardevol nie en verloor gou moed met mekaar. Aan die een kant streef ons na en begeer ons verhoudings, maar die individualisme binne-in ons veroorsaak dat ons nie die stamina openbaar wat ons kan deurtrek nie. Ons het mekaar so nodig, maar beskik oor geen volharding vir verhoudings nie. Ons bou hoë mure tussen ons en die bure en praat nie eers met mekaar nie, behalwe wanneer ons wil kla oor ‘n hond wat ons wakker blaf. Ander mense leef weer te vinnig en verby die res van ons. Ek onthou nog wat die Christen-sielkundige, Larry Crabb, in sy boek, Connections gesê het:


We have made a terrible mistake! For most of this century we have wrongly defined soul wounds as psychological disorders and delegated their treatment to trained specialists. Damaged psyches aren’t the problem. The problem is disconnected souls. What we need is connection! What we need is a healing community!

Ons moet die Bybel weer begin lees deur ‘n ONS-bril, in plaas van ‘n EK-bril. Ons vergeet dat die navolging van Jesus ‘n ONS-ding is, nie ‘n EK- of MY-ding nie. Jesus se modelgebed sê Ons Vader, nie My Vader nie. In Prediker 4:9-12 staan daar:


Twee vaar beter as een. Hulle inspanning kom tot iets. As die een val, kan die ander hom ophelp. Maar as een val wat alleen is, is daar niemand om hom op te help nie. As twee langs mekaar slaap, word hulle warm, maar hoe sal een wat alleen is, warm word? Een alleen kan oorweldig word, twee saam kan weerstand bied. 'n Driedubbele tou breek nie maklik nie.

As ons mekaar dan so nodig het, waarom het ons nie meer deernis, geduld en uithouvermoë met mekaar en die mense van ons land nie?

댓글


bottom of page