Leiers skep deugdelike omgewings vir werknemers
top of page

Leiers skep deugdelike omgewings vir werknemers


Geestelike leiers skep gesonde werkomgewings. Te veel werkspasies is toksies. Daar is byvoorbeeld ‘n gemeente, waaroor ek redelik bekommerd is. Min ander mense sou reken dat daar rede tot kommer is rakende hierdie spesifieke gemeente, aangesien dit uiterlik baie goed gaan. Die bywoningsgetalle van die eredienste lyk mooi, die inkomstes is glad nie sleg nie en hulle vaar goed op sosiale media. Oor die jare het ek konstant mense raakgeloop, wat daar werk of gewerk het. Deur die gesprekke kom dit dan spontaan na vore dat hierdie mense, terwyl hulle daar gewerk het, uiters misbruik gevoel het. Byna almal het getuig dat hulle “leeg gesuig” voel en met die gewaarwording gelaat is dat hulle “net gebruik” is. Die een persoon het gesê: “Iets in my siel het gesterf, terwyl ek daar gewerk het.”


Of elke storie presies waar is, weet ek nie, maar sulke dinge is nie ongelukkig nie moeilik om te glo nie, omdat sulke werkspasies dikwels die norm is, in gemeentes sowel as besighede. Sommige van die leiers van sulke omgewings is nie per se slegte mense nie. Baie is gelowig en probeer nie doelbewus om hulle werknemers in te doen nie. Ek dink egter daar is sleutelbeginsels, wat sekere Christenleiers mis. Wat soos ‘n paal bo water staan, is:


Ons moet tegnokratiese arbeidsomgewings vervang met waardegedrewe spasies.


Waar kom tegnokrasie vandaan?


Om te verstaan presies hóé tegnokraties ons soms onbewustelik werk, moet ons vinnig na die ontstaansgeskiedenis van ons moderne werksfilosofie kyk. Voor die ontstaan van die modernisme, tydens die Middeleeue, het mense se werk diep geestelike betekenis gehad. Daarom was die meeste werkers ook kunstenaars. Dit was die tyd voor maksimale verbruiking; dus het die meeste mense hulle tyd geneem en hulle taak met kunssinnige toewyding voltooi. Families het sekere unieke vermoëns besit, wat hulle oor jare aangeleer het. Oor lang tye het hulle die kuns van hulle vakmanskap verfyn.


Elke mens was uniek en niemand was vervangbaar nie.


Toe ontdek ons masjiene. Die stoomenjin word ontwikkel. Dit het mense begin vervang. Nou het die norm massaproduksie geword, met die oog op massa-verbruiking. Kunstige skepping in die werksomegewing word nou iets van die verlede. Mense kan slegs werk kry, indien hulle met masjiene kompeteer deur soos masjiene te werk. Die werksomgewing skuif van die woonhuise af na fabrieke. Mense word slegs ‘n nommer en word soos “dinge” hanteer, nie meer soos mense nie.


Vir die eerste keer word mense op ‘n enorme skaal “gebruik”. Mense, persone, word gebruik as “onpersoonlike” bronne van arbeid. Hierdie skuiwe het gekom saam met ‘n skuif weg van geestelike doel en betekenis na ‘n sekulêre manier van dink - dié filosofie heers vandag nog in baie werkomgewings. Ons praat van “menslike hulpbronne” (Human Recources). Die beginsel, wat hier steeds deur goeie mense en selfs dierbare gelowiges toegepas word, is dat ons steeds mense gebruik en nie dien nie.


Wat beteken dit presies?


Dit beteken dat ons in baie werksomgewings desperate mense so min as moontlik betaal vir soveel as moontlik arbeid. Dis wat tegnokrasie behels. Baie leiers hanteer mense steeds (dalk onbewustelik) soos masjiene. Ons gebruik mense en heg waarde aan “dinge”. Die probleem met “gebruik” is: ‘n mens hou nie op om iets te gebruik voordat dit óp is nie! Ons kan mense ook opgebruik. Miljoene mense word vandag opgebruik, want alles gaan oor die produksielyn. Die welsyn van die werknemer is sekondêr. Dis sy eie probleem, wat hy moet bestuur.


Tegnologie en tegnokrasie


Daar is ‘n verskil tussen die twee. Daar is niks opsig self fout met die ontwikkeling van tegnologie nie. Laasgenoemde is bloot die mens se kreatiewe interaksie met sy omgewing. Ons is na die beeld van God gemaak; daarom skep ons voortdurend nuwe dinge, nuwe tegnologieë. Ons kan steeds tegnologie gebruik, terwyl ons mense as waardevol ag. Tegnokrasie is egter wanneer mense misbruik word ter wille van tegnologie, waar mense soos vervangbare masjiene gebruik word. ‘n Christenleier kan nooit só dink oor sy werknemers nie.


Christenleiers skep waardegedrewe werksomgewings


Waardegedrewe omgewings beteken dat Jesus-volgelinge hulle werksomgewings sien as ‘n manier, waarop hulle hulle naaste lief het. Hier word mense nie soos dinge hanteer nie. Mense is nie vervangbaar nie. Mense word nie die minimum betaal, terwyl hulle leeg getap en uitgedruk word om soveel as moontlik vir die minimum verlies van die maatskappy te produseer nie. Daarom onderskei Etsko Schuitema tussen drie eenvoudige werkshoudings by leiers:


Ek is hier om te neem.


Of:


Ek is hier om te gee sodat ek die reg kan verdien om te neem.


Of:


Ek is hier om te gee.


Die eerste twee sinne dui op tegnokrasie. Christenleiers dien egter hulle mense soos Jesus. Hulle kom werk toe om te gee. Dit beteken nie dat werknemers nie tot verantwoording geroep word nie. Dit beteken ook nie dat daar geduld word dat werknemers ‘n slordige werksetiek handhaaf of gedurig toegelaat word om slagoffer te speel oor allerhande onsin nie. Dit beteken wel dat die werknemer se welsyn vir die leiers belangrik is, régtig belangrik is.


Dan kan werk, vir werknemers sowel as leiers, verander van ‘n vreugdelose plig in ‘n geestelike ervaring, waar mense toegewyd kan aandag gee aan wat hulle doen, waar hulle innerlike vernuwing kan beleef en gevorm word tot maksimale menswees.

bottom of page