• Coen Slabber

Leier nuusbrief Maart 2022


Lesse vir die kerk uit Handelinge


In Handelinge kry ons ‘n patroon wat die hedendaagse kerk kan navolg. Daar is uiteraard baie lesse wat die kerk kan leer. Ons fokus op slegs agt van hulle:

1. Ons het gesamentlike seisoene nodig vir insig en nadenke voor ‘n beweging ordentlik kan begin. (Handelinge 1)

In hierdie hoofstuk lees ons van 120 volgelinge van Jesus, wat tien dae saam in gebed en ondersoek van die Skrif was. Hulle het ook leierskapsbesluite geneem – die verkiesing van ‘n opvolger vir Judas. So het hulle verseker dat die fondament van die ontluikende beweging vas was. Hulle doel was eensgesindheid ten opsigte van die Goeie Nuus van die Messias.

Sonder hierdie periode van wag op God en nadenke sou die spontane byvoeging van 3 000 mense na Petrus se eerste toespraak tot chaos gelei het. Die hedendaagse kerk moet elke seisoen genoeg tyd neem om te wag op wat God wil hê. Dit doen ons in gebed en nadenke oor die Skrif. Dan is die kerk gereed vir die beweging van die evangelie.


2. Die vroeë kerk het hom toegewy aan die kern van die geloof. (Handelinge 2:42)

Hulle het bly volhard in die leer van die apostels, die verbondenheid met mekaar, die breek van die brood en gebede. Handelinge 2:42 sê dat net na die uitstorting van die Heilige Gees die gelowiges hulle toegewy het aan die leer van die apostels, die gemeenskap van die gelowiges, die breek van die brood en gebede. Besoekers aan Jerusalem het langer aangebly sodat hulle die leer van die apostels kon hoor.

Hierdie leer het hulle sosiale byeenkomste, gesamentlike maaltye en aanbidding gevorm. Hiersonder sou die aktiwiteite van die kerk op subjektiewe ondervindings en menings gebou word. Die teenswoordige kerk moet ook gelowiges grondves in die basiese beginsels van die geloof as hulle geestelike groei wil ervaar.


3. Die etiese standaarde van heiligheid moet behou word. (Handelinge 5:1 – 11)

Hierdie gedeelte vertel die verhaal van die oordeel oor Ananias en Saffira. Dit sê vir ons dat heiligheid en die vrees vir die Here behou moet word om die welstand van die kerk te verseker. As God toegelaat het dat hulle aanhou lieg en manipuleer het, sou dit soos suurdeeg versprei het en die hele kerk besmet het. Dit is nie toevallig dat net na hierdie insident God tekens en wonders onder die volk laat plaasvind het nie. (Handelinge 5:12 – 14) Die moderne kerk moet besef dat hulle God se vermoë om deur ons te werk, bemoeilik as ons nie-Bybelse standaarde toelaat om in die kerk in te sypel.


4. Sorg en deernis moet onbevooroordeeld wees. (Handelinge 6:1 – 7)

Kort na die begin van die Jesus-beweging het etniese en ander vooroordele kop uitgesteek. Die Griekssprekende weduwees is in daaglikse versorging oor die hoof gesien. Die gemeente het genoeg wysheid gehad om sewe mans van integriteit en wysheid aan te stel om toesig te hou oor hierdie bediening. Die gevolg is dat aan elke weduwee se behoeftes voldoen is, die Woord van God versprei het en dat die dissipels vermeerder het. Die huidige kerk moet verstaan dat daar ‘n strategiese uitdaging is, wat oorkom moet word voor elke groot beweging van God.


5. Dit is nie die moeite werd om te glo as dit nie die moeite werd is om daarvoor te sterf nie. (Handelinge 7).

Die martelaarskap van Stefanus word beskryf in Handelinge 7:54 – 60. Dit beskryf ‘n verbasende patroon vir ons om te volg. God kan nie die evangelie seën as die gelowiges nie bereid is om hulle lewens te gee vir die uitbreiding van Sy koninkryk nie. Want ons wat leef, word voortdurend aan die dood uitgelewer ter wille van Jesus, sodat ook die lewe van Jesus in ons sterflike liggaam sigbaar kan word. (2 Korintiërs 4:11).

‘n Moderne kerk, wat net vergader om sy behoeftes te hanteer, sal nooit die evangelie bevorder nie. Jesus het gesê dat ons krag sal hê, nadat die Gees in ons kom bly het om Sy getuies te wees. ‘n Getroue getuie oorwin die vyand as hy nie wegskram van die dood nie. Hulle het hom oorwin, op grond van die bloed van die Lam, en op grond van hulle getuienis. Selfs in die aangesig van die dood het hulle nie hulle eie lewens liefgehad nie. (Openbaring 12:11).


6. Die kerk moet tydens vervolging funksioneer. (Handelinge 7:58 – 8:8)

Die vroeë kerk het tydens vervolging gefloreer. Selfs al was hulle uit hulle huise gedwing en al het alles verloor, was hulle fokus steeds om die evangelie te verkondig. Waar hulle ook al versprei is, het hulle die Woord verkondig. Die gevolg is dat baie gemeentes geplant is in stede soos Antiogië en Samaria. Dit het ook gelei tot die bekering van hulle belangrikste vervolger, Saulus.

Miskien sou Saulus nie by hulle aangesluit het as hulle hulle in hul hoekies teruggetrek het nie. Die moderne kerk moet ook te midde van vervolging volhard.


7. Die kerk moet alle mense omarm. (Handelinge 10: 1 – 48).

Jesus het opdrag aan Sy dissipels gegee om dissipels van alle nasies te maak (Matteus 28:19) Die vroeë kerk het daarop gefokus om Jode te bereik. Eers na hulle vervolg is, het hulle die Woord aan die Samaritane verkondig. Slegs na ‘n visioen van Petrus het hy die Woord aan Cornelius verkondig. Selfs vir die apostels was dit moeilik om buite hulle etniese groep en sosiale gemaksone te dink. Dit wys vir ons hoe moeilik dit is om etniese vooroordele te oorkom.

Die hedendaagse kerk moet oop wees vir alle mense. Mense se kulturele agtergrond moet ons nie verhinder om die evangelie te versprei nie.


8. Kerkleiers moet hulleself oorgee aan vas en gebed vir Goddelike strategie. (Handelinge 13:1 – 2)

In plaas van vasgevang te word in eindelose komitees en besprekings, het die ouderlinge in Antiogië voldoende tyd spandeer om die Here te dien en te vas. Dit gee aan God die ruimte om te beweeg. Hy openbaar aan hulle ‘n strategie wat die heel wêreld sou verander. Die moderne gemeentes moet ook die Here dien en wag vir die Gees om hulle harte te verlig. So doen ons wat God van ons verlang en vra ons nie vir God om ons eie pogings en agendas te seën nie.


Tegnologie en strategie


Dit is idees en nie tegnologie nie wat die wêreld verander. Ons word vasgevang deur die jongste tegnologie, sagteware, sosiale media, toepassings en nog meer. Ons spring dikwels in voordat ons alles goed oordink het. Ons het altyd ‘n tegnologie-strategie nodig.

Tydens die Amerikaanse Burgeroorlog was daar baie ongevalle, want die tegnologie was voor die strategie. Hulle het so vinnig gewere, ammunisie en plofstof ontwikkel en gejaag om dit te gebruik dat hulle dit willekeurig gebruik het. Groot getalle soldate van die leër wat die tegnologie gebruik het, het gesterf.

Wat is dan die gevolgtrekking? Nuwe tegnologie is wonderlik, maar dit moet goed deurdink word. Ons het altyd ‘n tegnologiestrategie nodig. Jy kan baie skade aan jou eie saak aanrig deur willekeurig jou gewere af te vuur.

Daar is ten minste drie vrae wat ons vooraf moet beantwoord:

1. Wat is die beste gebruik van die tegnologie?

2. Hoe kan ons die belegging maksimaal benut?

3. Wat is ons verlangde resultaat en hoe sal ons weet dat ons dit bereik het?

Wees kreatief.

Wees spontaan.

Onthou altyd: Tegnologie is wonderlik, maar dit is idees wat die wêreld verander!


Werkolisme

Werkolisme is vandag ‘n algemene probleem, ook onder kerkmense. Wat sê dit van my? Hier is ‘n paar stellings, wat ons beslis sal laat dieper dink.

  1. Ek baseer my waarde op my prestasie. Dit is iets wat ons tipies by studente kry, maar party van ons sukkel om hierdie neiging af te skud.

  2. Ek praat meer van genade sonder om dit uit te leef. Werkolisme aanvaar dat genade nie genoeg is om God se guns te ontvang nie.

  3. Ek hanteer mislukking swak. Baie van ons werk aanhoudend, want ons glo dat mislukking nie ‘n opsie is nie. In plaas daarvan dat ons ruimte laat om te leer uit mislukking, probeer ons ten alle koste mislukking vermy.

  4. Vergelyking en kompetisie reël my denke. Mense sien dikwels nie hierdie neiging in ons raak nie, maar ons weet dit is daar.

  5. Ek gee nie altyd aandag aan die geliefdes om my nie. Ek hoor nie goed as my eggenoot of kinders vir my sê dat ek te besig is nie. Die mense wat my die beste ken, sien my werkolisme voordat ek dit raaksien.

  6. Ek gee nie genoeg aandag aan die liggaam wat God aan my gegee het nie. Ons oë gaan gewoonlik oop as ons gesondheidsprobleme ontwikkel. Ons moet dié probleme probeer voorkom.

  7. Ek aanvaar dat God my nodig het. Ek sê vir myself: “As ek dit nie doen en goed doen nie, sal God se werk daaronder ly.”

Dit klink miskien kras, maar dink mooi. Elke stelling tref die kol.


Fokus daarop om “nee” te sê


Die verskil tussen gemiddelde en buitengewone resultate is wat jy vermy. Om nee te sê vir middelmatige geleenthede, is maklik. Om nee te sê vir goeie geleenthede, is moeilik ... Almal van ons het elke week dieselfde aantal ure. Wat mense onderskei, is hoe daardie ure gebruik word. Ons kan enigiets doen, maar ons kan nie alles doen nie.

Die oomblik as ek ja sê, skep dit ‘n verpligting – daar is iets wat jy moet doen. Die probleem is dat die dinge waarvoor ek ja sê, die geneigdheid het om toe te neem. As ek ja sê, moet dit die toekoms makliker en nie moeiliker maak nie. As ek ja sê vir ‘n versoek, voel ek beter. Daarom sê ons ja vir dinge wat ons weet ons nie vorentoe sal beweeg nie. Ons sê ja, want ons wil nie iemand se gevoelens seer maak nie.

Die probleem is dat ons beweging en eindresultate verwar. As ek ja sê, moet dit tot resultate lei. Om ja te sê, gaan met ‘n sekere koste gepaard. ‘n Klein projek word ‘n groot een, ‘n eenmalige sessie verander in ‘n weeklikse sessie. Die verskil tussen gemiddelde en buitengewone resultate is dit wat ek vermy. Daarom moet jy nie huiwer om nee te sê nie. As ek ja sê, verbruik ek tyd. As ek nee sê, skep ek tyd. Moet nooit onmiddellik ja sê nie - gee jouself spasie. Dink eers goed na en besluit dan. Jy sal selde nee sê en dit later berou. Jy moet ja sê vir ‘n rede – jou rede. Sê dus: ”Ek het besluit om ja te sê, want ... “ As jy dít doen, sal jy gou agterkom hoe dikwels jy ja sê vir die verkeerde redes. Hoe verder jy vorder, hoe meer selektief word jy. As jy nie nee vir goeie geleenthede kan sê nie, sal jy nooit die tyd hê om groot geleenthede te gebruik nie.

People think focus means saying yes to the thing you’ve got to focus on. But that’s not what it means at all. It means saying no to the hundred other good ideas that there are. You have to pick carefully. I’m actually as proud of the things I haven’t done as the things I have done. Innovation is saying ‘no’ to 1000 things. Steve Jobs.

Vyf soorte doelwitte wat God seën


Nuwejaar is gewoonlik die tyd, wanneer mense hulle doelwitte vir die nuwe jaar stel. Dit is die tyd om weer oor jou prioriteite te dink en om weer te fokus op dit wat regtig saak maak. Dit beteken nie dat alle doelwitte noodwendig goed is nie. Daar is sekere doelwitte, wat God sal seën, en ander, wat Hy nie sal seën nie.


Rick Warren identifiseer sekere doelwitte wat God sal seën:

1. Doelwitte wat God verheerlik

Laat ek dit so stel: alles wat julle doen, of julle nou iets eet of drink, moet julle doen sodat mense kan raaksien hoe belangrik God is. (1 Korintiërs 10:31 – Die Boodskap) Ons kan God verheerlik in alles, wat ons doen, as ons dit met die regte gesindheid en die regte motivering doen. ‘n Doelwit, wat ons meer dankbaar teenoor God maak, trek ons nader aan Hom. As ons doelwit is om Jesus met ander te deel, verheerlik ons God. Dieselfde doelwit kan God verheerlik of nie verheerlik nie, afhangende van die motivering vir die doelwit. Al wat saak maak, is dat ons doen wat God van ons vra, of ons nou hier bly, of daar in die hemelse wêreld. (2 Korintiërs 5:9 – Die Boodskap) Om God te verheerlik moet die motivering vir elke doelwit, wat ons stel, wees.


2. Doelwitte wat deur liefde gemotiveer word

God stel meer belang in hoekom jy iets doen as dit wat jy doen. Hy stel meer belang in jou hart as in jou optrede. God seën nie doelwitte, wat ons as gevolg van vrees, jaloesie of druk van mense stel nie. Maar as liefde ons doelwitte motiveer, sal God ons seën. Laat alles wat julle doen in liefde geskied. (1 Korintiërs 16:14) Hoekom? Want liefde is die belangrikste les, wat God ons in die lewe wil leer.

Twee tipes liefde motiveer ons doelwitte: liefde vir God en liefde vir ons naaste.


3. Doelwitte wat een van God se doelwitte vir ons lewe vervul

God het vyf doelwitte vir ons lewens: aanbidding, gemeenskap, dissipelskap, bediening en evangelisasie. God se doelwitte is ewig en Hy seën ons altyd as ons hulle navolg. Ek hardloop daarom só, dat dit nie doelloos is nie; en boks só, dat ek nie in die lug slaan nie. (1 Korintiërs 9:26) Paulus was ‘n doelgedrewe hardloper. Hy wou doen wat God wou hê dat hy moes doen. Hy het geweier dat allerlei afleidings op sy pad kom. Die Bybel vergelyk dikwels die lewe met ‘n resies. Die hardloper kan nie die eindstreep bepaal of verander nie. Die eindstreep is vooraf vasgestel. Dieselfde geld vir ons lewens. Ons moet God se doelwitte nastreef. Ons kies nie ons doelwitte nie – God doen dit.


4. Doelwitte wat in geloof gestel word

Doelwitte is nie net ‘n stelling van geloof nie, maar verruim jou geloof. Hoe groter jou doelwit, hoe meer sal jou geloof getoets word. Sonder geloof is dit onmoonttlik om God te behaag; want wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan en dat Hy dié beloon wat Hom soek. (Hebreërs 11:6) As die doelwit te klein is, is dit nie ‘n doelwit nie, maar ‘n item op jou te-doen-lysie. ‘n Doelwit is iets, wat groot genoeg is vir jou om op God te vertrou om dit te voltooi.


5. Doelwitte wat so groot is dat jy dit net in God se krag kan bereik

Daar is ‘n groot verskeidenheid selfhelpboeke beskikbaar. Sommige van hulle het goeie raad, maar nie een van hulle voorsien wat die Bybel doen nie. Hulle mag briljante strategieë hê, maar nie een van hulle gee aan jou die krag om jou prioriteite in die lewe te bestuur nie. Hierdie selfhelpteorieë kan jou help met die bestuur van jou tyd, maar hulle kan jou nie help om iemand wat jou seergemaak het, te vergewe of om jou denke te vernuwe nie. Net God se mag kan dit doen.

Jou doelwitte is vir God belangrik. Kyk weer na jou doelwitte vir 2022. Is dit die soort doelwitte wat God sal verheerlik?