Leiers se (MAG-tige) versoeking
top of page

Leiers se (MAG-tige) versoeking


Die laaste paar jaar is daar in gesprek oor leierskap begin om baie (alhoewel nie genoeg nie) klem te lê op die konsep van Self-leierskap. Hierby word bedoel dat elke leier, veral ‘n leier, wat ‘n geestelike voorbeeld wil stel, moet toesien hoe hy homself in sy eie verhouding met God lei, hoe hy sy eie waardes bewustelik of onbewustelik ten toon stel, wanneer hy tussen sy mense is. Karakter is werklik uiters fundamenteel tot ‘n leier se roeping.


Die skrywer, JRR Tolkien, is iemand, wat baie in die leierskap van sy tyd belang gestel het en ook heelwat kontemporêre leiers gekritiseer het. Baie van sy kommentaar oor leierskap het die vorm aangeneem van sommige fantasieverhale wat hy geskryf het soos The Lord of the Rings en The Hobbit. In een van die onlangse flieks wat vanThe Hobbit gemaak is, is daar ‘n toneel, wat uiters relevant vir leiers van vandag is.


Een van die hoofkarakters se naam is Thorin, die hoof van ‘n stam dwerge (onthou dis fantasie). Hierdie dwerge was eens ‘n magtige ryk, wat in ‘n groot vesting in die berge gebly het. Hulle is egter daar uitgedwing deur ‘n magtige, bose draak wat die vesting vir homself kom toe-eien het. Vir jare dwaal die dwerge dus in die wêreld rond as uitgeworpe ballinge, sonder tuiste of heenkome. In hierdie tyd vestig Thorin homself as uitmuntende leier, wat sy stam ballinge met waardigheid, dapperheid, liefde, krag en integriteit lei. Na baie jare van ronddwaal, wen hulle egter hulle ou land en vesting terug en raak van die draak ontslae. Thorin kry die troon van sy voorsate terug en hy word amptelik as koning gekroon.


Sukses.


Dan begin die moeilikheid.


Dit begin eers baie stadig. Die amptelike magsposisie, wat Thorin beklee, begin na sy kop gaan. Hy raak so behep daarmee om sy eie stam te beskerm en hy begin so laer trek, dat hy begin vyandskap met naburige stamme, met wie hulle eens vriende was, kweek. Hy raak behep daarmee om rykdom te versamel om sodoende sy eie mense met soveel ekonomiese mag te belaai dat niemand hulle ooit weer kan bedreig nie. Die ironie is dat hy so ‘n mislike mens in die proses word dat sy eie dwergmense later nie meer hou van wat hy geword het nie. In een van die klimakse van die fliek konfronteer een van sy ouer, wyser dwergvriende hom met die woorde:


You sit here in these vast halls, with a crown on your head and yet you are lesser now than you’ve ever been. You cannot see what you have become.

Hierdie harde woorde het uiteindelik die gewenste uitwerking gehad. In ‘n dramatiese toneel gooi Thorin later sy kroon van sy kop af, draai terug na sy mense toe en lei hulle weer met waardigheid.


Vir my as leier is hierdie woorde, gespreek deur Thorin se vriend, egter angswekkend, want leiers, wat dit goed bedoel en uiters vaardig is, kan self innerlik korrup word, juis in ‘n poging om die goeie na te jaag. Baie “goeie” leiers het nodig om hierdie woorde van Thorin se vriend te hoor.


Dus ‘n paar belangrike gedagtes vir ons as leiers:


1. Wees meer bedag op jou karakter ná sukses as voor die tyd. Sukses maak ons blind vir ons eie innerlike realiteite. You cannot see what you have become. Kyk baie diep, dapper en eerlik na jouself.

2. Moenie dink dat, omdat jy poog om die goeie te doen, jy self outomaties ‘n goeie karakter openbaar of gesond is nie. Dis juis wanneer ons onsself aan die kant van die goeie sien, dat ons verkeerde aannames aangaande onsself maak. Dink net hoe baie geestelike en kerkleiers al korrupsie of ander vorme van sondes in die Naam van Jesus gepleeg het. Die “saak” waarvoor ons baklei vrywaar ons nie van innerlike verrotting nie.

3. Soms moet jy jou kroon afgooi en by jou mense kom sit. Dit beteken nie dat jy jou verantwoordelikhede as leier opsy stoot nie. Dit beteken wel dat jy jou mag neerlê en nie verknog raak aan die posisie, wat jy beklee nie. Doen nederige dinge en vertel vir niemand daarvan nie. Gaan sit by jou mense en hoor hulle hartklop.

4. Luister na die raad van wyse mense. Moet nooit geslote raak vir die harde realiteite aangaande jouself nie. Ontwikkel ‘n sagte oor vir sekere wyse vriende sodat hulle altyd die vrymoedigheid sal hê om eerlik met jou te wees.


Kom ons onthou wat Jesus vir Sy dissipels gesê het (Markus 10:42-45):


Julle weet dat dit by die nasies so is dat hulle sogenaamde regeerders oor hulle baasspeel en dat hulle groot manne die mag oor hulle misbruik. Maar by julle moet dit nie so wees nie. Elkeen, wat in julle kring groot wil word, moet julle dienaar wees; en elkeen onder julle, wat die eerste wil wees, moet julle almal se dienaar wees. Die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en Sy lewe te gee as losprys vir baie mense.
bottom of page