Leier Nuusbrief April 2023
top of page

Leier Nuusbrief April 2023


Hoe kan ek ander liefhê?

Gemeentes moet hulle lidmate leer om mekaar lief te hê. Jesus is die beste rolmodel oor hoe om ander lief te hê. Daarom het Hy vir ons ‘n nuwe opdrag gegee om ons naaste lief te hê (Johannes 13:34).

Wat kan ons by Jesus leer oor hoe om ander lief te hê?


1. Ons moet ander aanvaar soos Jesus ons aanvaar


Volgelinge van Jesus moet die mense wees wat ander die meeste aanvaar. Die beginpunt om ander te aanvaar, is om te besef hoeveel God jou aanvaar. Jy mag dit sê, maar jy moet werklik verstaan hoeveel jy deur God aanvaar is.


Jesus sê: Elkeen, wat die Vader vir My gee, sal na My kom en Ek sal die een, wat na My kom, nooit verstoot nie (Johannes 6:37). Jesus stel dit duidelik dat Hy ons aanvaar.


Die waarheid is egter dat jy Jesus kan volg en nooit besef dat jy deur God aanvaar word nie. Jesus het ons onvoorwaardelik lief en ons moet ander mense net so lief hê. Jy kan mense aanvaar sonder om noodwendig die manier, waarop hulle leef, goed te keur. Jesus het dit met die owerspelige vrou gedoen. Hy aanvaar haar net soos sy is. Hy laat haar egter nie in haar sonde nie: Ek veroordeel jou ook nie. Gaan en moet van nou af nie meer sondig nie (Joh 8:11).


2. Ons moet ander waardeer, soos Jesus ons waardeer


Elke mens is van onskatbare waarde vir God. Ons is so waardevol vir God dat Hy ons geskep het, dat Jesus vir ons gesterf het, dat Hy Sy Heilige Gees in ons geplaas het en dat Hy wil hê dat ons vir ewig saam met Hom moet leef.


Jesus sê: Word vyf mossies nie vir twee assarii verkoop nie? En nie een van Hulle is vergete voor God nie. Selfs die hare op julle kop is almal getel. Moenie bang wees nie – julle is meer werd as baie mossies. (Lukas12:5 – 6)


Hoekom is die mens so waardevol?


· Ons is immers Sy maaksels (Efesiërs 2:10). Ons is God se meesterstuk.

· God het baie vir ons betaal: Maar dat julle losgekoop is deur die kosbare bloed van Christus – Hy wat soos ‘n lam is, vlekloos en sonder liggaamsgebrek. (1 Pet 1:19).


Jesus het mense lief gehad deur hulle te waardeer. Net so moet ons ook doen. Ons kan dit doen deur altyd met die mense met wie ons ‘n interaksie het, te kyk en te luister.


3. Ons moet ander vergewe soos Jesus ons vergewe


God betaal ons nie terug vir alles wat ons verkeerd doen nie. Jesus het ten volle betaal vir alles, wat ons verkeerd gedoen het. God het reeds lank voor ons geboorte beplan om dit te doen: So het Hy ons voor die grondlegging van die wêreld vir Hom uitgekies, sodat ons heilig en onberispelik in liefde voor Hom sou wees. (Efesiërs 1:4)


God het reeds lank voor ons geboorte ‘n plan vir die skuld in ons lewens gehad.


Omdat God ons vergewe het, verwag Hy dat ons ander ook sal vergewe. Verdra mekaar en as enigiemand ‘n klagte teen iemand anders het, vergewe mekaar. Soos die Here julle vergewe het so moet julle ook vergewe. (Kolossense 3:13)


Ons wil nie altyd ander vergewe nie. Ons wil graag hard teen mense wat ons sleg behandel, optree. Maar die Bybel sê ons moet juis anders optree.


4. Ons moet in ander glo soos Jesus in ons glo


Almal van ons is oor sekere dinge onseker. Hoe keer jy hierdie onsekerheid om? Deur nie te luister na wat mense van ons sê nie, maar wat Jesus van ons sê. Die Bybel wil hierdie soort liefde, wat ons vir ander moet hê, beklemtoon – ‘n liefde wat mense opbou en nie afbreek nie. As jy iemand werklik liefhet, is jy nie oor onreg bly nie, maar is saam bly oor die waarheid. Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verduur alles. (1 Kor 13:6 – 7)


Dit is presies wat Jesus vir ons doen. As Hy na ons kyk, sien Hy ons, nie vir wie ons is nie, maar vir wat ons kan word – Hy sien ons groei. Jesus vertel vir ons voortdurend dat Hy in ons glo:


· Ek sê vir julle: As julle geloof het soos ‘n mosterdsaadjie, sal julle vir hierdie berg sê, verplaas jou hiervandaan daarheen en dit sal soontoe verskuif. Ja, niks sal vir julle onmoontlik wees nie. (Matt 17:20 – 21)

· Alle dinge is moontlik vir iemand wat glo. (Mark 9:23)

· Ek sê vir julle, as julle geloof het en nie twyfel nie, sal julle nie net kan doen wat met die vyeboom gebeur het nie, maar as julle vir hierdie berg sê: ‘Tel jouself op en werp jou in die see!’ sal dit gebeur. (Matt 21:21)


Die Bybel sê dat God ons aanmoedig. Hy bring die beste in ons uit deur vir ons te sê wie ons in Hom is. Dan vra Hy ons om dieselfde te doen.


Kom ons oorweeg hoe ons mekaar tot liefde en goeie dinge kan aanmoedig.

Hoe moet ek dink?

Good thinking is expensive. Bad thinking costs a fortune.


Een manier om jouself te dwing om te dink, is deur te skryf. Om goed te kan skryf, vereis dat jy goed moet dink. As ek myself dwing om my denke sigbaar te maak, vermy dit swak denke – ek kan nêrens wegkruip nie.


As jy ‘n moeilike probleem het, gebruik ‘n paar minute om die kern van die probleem neer te skryf. Dit sal nie noodwendig werk nie, want om goed te kan skryf, net soos om goed te kan dink, vereis tyd. ‘n Paar minute is selde genoeg.


Visie en missie

Visie is noodsaaklik vir leierskap, maar dit is nutteloos tensy dit lei tot ‘n duidelike missie. Ons kan sê ‘n visie is wat ons sien wanneer ons na die toekoms kyk. ‘n Missie is wat ons doen om dit wat ons sien te bereik. Vir die meeste van ons bly die visie onveranderd deur ons hele lewe. Die prioriteite ten opsigte van die missie mag verander tydens die verskillende seisoene van ons lewens.


Hoe kan ek my visie in ‘n kragtige missie verander?


1. Verdeel jou visie in meetbare dele. Dit is dan die prioriteite vir jou missie. Wat wil ek bereik? Hoe baie mense wil ek bereik? Watter soort span het ek nodig? Wat is my begroting? Wees baie spesifiek en stel beide kwantitatiewe en kwalitatiewe doelwitte.

2. Ontwikkel ‘n strategie vir elk van die komponente. Bepaal ‘n tydlyn. Bepaal dan inkrementele stappe om elke uitkoms te bereik. As jy jou doelwitte binne vyf jaar wil bereik, waar moet jy na drie jaar wees?

3. Gee verantwoordelikheid vir elk van die prioriteite van jou missie aan jou spanlede en rus hulle toe om in hulle verantwoordelikheid te slaag. Help hulle om die visie duidelik te sien en help hulle om verantwoordelikheid vir hulle deel van die visie te aanvaar. Ondersteun hulle om hulle doelwitte te bereik.


bottom of page