top of page

Benodig: Spartaanse Christenskap


Onlangs in Griekeland het ons naby Thermopylae gekom, waar daar ‘n groot standbeeld ter ere van die antieke Spartaanse koning, Leonidas opgerig is. Dit was hy, wat in die Slag van Thermopylae in 480 voor Christus, met slegs driehonderd soldate weerstand teen die Persiese oormag gebied het en hulle vir dae op ‘n afstand gehou het. Hierdie optrede van die dapper drie honderd het veroorsaak dat die ganse Griekeland ‘n jaar later verenig het om die Perse te oorwin. Die standbeeld van Leonidas herinner my toe aan die fliek, 300, waar die rol van Leonidas deur Gerald Butler vertolk is. In ‘n dramatiese toneel ontmoet hierdie dapper Spartaanse koning en ‘n groep Akkadiese soldate mekaar, op pad om die tirannieke Persiese Ryk die hoof te gaan bied. Die Akkadiese bevelvoerder was teleurgesteld, want Leonidas het slegs drie honderd soldate saam met hom gebring, nie naastenby genoeg om die Perse te verslaan nie.


Leonidas het egter die Akkadiër se skeptisisme beantwoord deur vir een van die Akkadiese soldate te vra:


You there, what is your profession?


I’m a potter, sir, antwoord hy.


Leonidas vra toe ‘n tweede een: And you, what do you do?


I’m a sculptor.


En toe ‘n derde, wat antwoord: I’m a blacksmith.


Leonidas draai op daardie oomblik na sy eie Spartaanse soldate en vra: Spartans, what is your profession?!


Hulle beantwoord hom eenparig en passievol met hulle Spartaanse oorlogskreet. Hulle professie is oorlog, niks anders nie. Hulle is nie pottebakkers of ystersmede, wat afleiding soek deur gou bietjie te kom oorlog voer nie. Oorlog is in hulle bloed. Dis wat hulle doen, waarvoor hulle leef.


Leonidas draai toe terug na die Akkadiese aanvoerder en sê:


See old friend, I brought more soldiers than you.


Leonidas se punt was dat die Spartane hulle ganse lewe toewy aan oorlog. Hulle word vir niks anders opgevoed of grootgemaak nie. Van kleins af word hulle voorberei hiervoor. Wanneer die Spartaanse seuntjies sewe jaar oud was, is hulle weggeneem van hulle ma’s af en deur soldate grootgemaak sodat hulle hard kon word en met algehele fokus voorberei kon word. Hulle liefde was oorlog en slegs oorlog.

Die Akkadiërs, aan die ander kant, was goeie mense met goeie bedoelings. Hulle kon ook oorlog voer. Hulle het egter nie die Spartaanse fokus gehad nie. Hulle agterstand was dat hulle deur wanhoop gedryf was om hulle huidige beroepe te verlaat deur oorlog toe te gaan, waarna hulle weer sou terugkeer na hulle beroepe as ystersmid of kunstenaar.


Leonidas het probeer sê dat jy meer kan verrig met ‘n handjievol toegewyde, gefokusde soldate as ‘n massa mense, wat nou en dan uit die kas kom om te baklei en dan weer terugklim in die kas.


Ons moenie die Spartane romantiseer nie. Hulle was wrede mense sonder Christelike waardes. Hulle toewyding was egter bewonderenswaardig en behoort vir ons as voorbeeld te dien in ons eie toewyding aan die Here.


Baie Christene dien die Here soos die Akkadiërs. Hulle is net Christene, wanneer hulle desperaat raak. Hulle is deeltydse Christene. Ja, hulle bid dalk en lees ‘n bietjie Bybel, maar hulle liefde is om geld te maak, mag te bekom of ‘n naam vir hulleself te maak. Hulle godsdiens is soms slegs ‘n manier om te bekom waarna hulle uit selfsug smag. Vele dominees en pastore val ook in hierdie kategorie.


Dan is daar Jesus-volgelinge, wat hulle lewe saam met Jesus sien as hulle voltydse professie. God is hulle liefde en Hy alleen. Hulle leef vir Hom. Elke dag. Hulle daaglikse fokus is om by God te wees en om Hom lief te hê met hulle denke, woorde, dade en hulle lewens. Ja, hulle doen ook prokureurswerk, of gee onderwys of was die skottelgoed. Maar al hierdie aksies dien bloot as vermomming en staan in diens van hulle Jesus-liefde. In hulle harte is hulle heilige God-jagters en Jesus-volgers. Wanneer hulle hulle oë uitvee, dink hulle aan Jesus en praat hulle oor Hom. In hulle vrye tyd is hulle bewus van Sy teenwoordigheid en begeer hulle om Hom beter te ken. Wanneer hulle tussen hulle geliefdes is, is hulle intens bewus daarvan dat slegs Hy die Bron van hierdie liefde is.


Hulle eggo Paulus se woorde, wanneer hy vanuit die tronk sê want om te lewe, is vir my Christus, en om te sterwe is vir my wins ... al wat ek wens is om Christus te ken. (Fil 1:21, 3:10)


Met ‘n handjievol Spartaanse (ofte wel Pauliniese) Jesus-volgelinge kan ons meer verrig as massas lou Christene. Wanneer ek sien hoe armoede steeds ‘n groot probleem in Suid-Afrika is, hoe die kloof tussen ryk en arm steeds groter word, misdaad steeds ‘n probleem is, die klakouse steeds die botoon voer, vyandskap steeds toeneem, dan weet ek Spartaanse Christene is skaars in ons kerke.


Mag Jesus se Goeie Nuus elke dag opnuut Sy pad vind na ons harte toe, dat ons liefde fanaties sal brand vir die Een wat óns harte op Golgota verower het.

Comments


bottom of page