Lag - dis ’n Bybelse opdrag
top of page

Lag - dis ’n Bybelse opdrag


Iewers het Jordin Sparks gesê:

If I don't laugh at least 20 times a day - it hasn't been a good day.

Inderdaad! Die spreekwoord sê juis:

Laughter is the best medicine.

Die bekende Mayo-kliniek in die VSA stem hiermee saam. In ’n artikel oor die korttermyn en langtermyn effek van lag bevind hulle dat om gereeld te lag, stres verlaag. Dit stimuleer organe soos die hart en longe op gesonde maniere, dit bevorder die afskeiding van gesonde endorfiene deur die brein, ensovoorts. Maar nog meer, lag is ook ’n Bybelse opdrag. Laat ek dit reg sê: blydskap is voorskriftelik op baie plekke in die Bybel. Filippense 4:4 is dalk die bekendste teks in hierdie verband. Paulus skryf hier:

“Wees altyd bly omdat julle die Here S’n is. Laat ek dit nog ’n keer vir julle sê: Wees bly!”

Blydskap is nie opsioneel nie. Dis nie asof ons die keuse het om bly te wees, wanneer dit ons pas nie. Blydskap en vreugde is ’n opdrag van die Here. Kom ons wees eerlik: ons kry dit sonder veel moeite reg om 20 keer per dag te kla, te bekommer of negatief te praat. Dis nie asof ons eers vir ’n kursus, soos: “Hoe om meer ongelukkig te wees”, hoef in te skryf voordat ons behoorlik ongelukkig is nie. Sulke negatiewe emosies en taal bots met wat God vra. Vreugde en blydskap is ’n Goddelike moet! Blydskap is God se roete vir sy kinders. Dit spruit voort uit die wete dat jy ’n Hemelse Vader het, wat vir jou sorg. Dit spruit voort uit die insig dat elke haar op jou kop getel is. Jy mag die Here regtig met jou hele lewe vertrou. Jy kan meer sorgvry leef as wat jy tot nou toe gedoen het. Jy kan ontspan. Jy mag meer lag. Dis die regte medisyne vir jou liggaam en vir jou siel.

bottom of page