Die regte keuse is nie die maklike keuse nie
top of page

Die regte keuse is nie die maklike keuse nie


Nadav Ben-Yehuda was 300 meter van die kruin van Everest af, toe hy afkom op ’n Turk, Aydin Irmak, wat bewusteloos was. Nadav was egter op die punt om die jongste Israeli te word om die kruin te bereik, maar toe maak hy die keuse om eerder vir Irmak te help. Hy het geweet dat as hy dit nie doen nie, sou Irmak sterf. Onder uiters moeilike omstandighede het Nadav hom toe teen die berg afgedra. Hierdie terugtog het meer as nege uur geduur. Nadav het groot skade aan sy vingers opgedoen, maar hy het Aydin, wat op daardie stadium ’n vreemdeling vir hom was, veilig van Everest af gekry.


Die lewe gebeur onbepland. Soms is jy op pad na die kruin van Everest, maar dan moet jy kies tussen roem en die keuse om iemand se lewe te red. Soms is jy op pad na ’n groot besigheidstransaksie, maar dan loop jy ’n gewonde langs die pad raak. Dan moet jy besluit of die hart van die Here in jou binneste gaan klop, of nie. Gaan jy dan, soos die Samaritaan van Lukas 10, die pad oorsteek en help? Of gaan jy verbystap? Mag die Here gee dat jy vandag die regte keuses maak.

bottom of page