Christus is dieselfde, al verander alles
top of page

Christus is dieselfde, al verander alles


Geen handboek kon ons voorberei het op hierdie nuwe wêreld, waarbinne ons tans leef nie. Die Corona-virus het ons deel gemaak van ’n wêreld van konstante verandering. Die Europese denker, Zygmunt Baumann, het juis die term “liquid modernity” gebruik om ons onseker tydsgees mee te beskryf. Hiermee bedoel hy alles is aan’t vloei. Niks in die samelewing hou meer vir lank nie. Stelsels raak gouer in onbruik as die tyd wat dit geneem het om hulle op te rig.


In hierdie koponderstebo wêreld, waar alles vinniger verander as ooit tevore, moet ons leer om ons vastigheid in die Here te vind. Hebreërs 13:8 leer juis vir ons Jesus Christus is altyd wie Hy is. Hy is altyd getrou aan Homself, of dit gister is, of vandag, of tot in die verste ewigheid. Dit beteken Christus is altyd vol genade en liefde. Hy is altyd goed en vol medelye. Daarom:


* Al verander alles en almal rondom ons, Christus is altyd ons ewige Rots.

* Al wen slegte nuus regoor die land en dwarsdeur die wêreld, Christus is altyd goeie nuus. Sy evangelie bly onveranderd.

* Al waai die winde van verandering stormsterkte in die wêreld, Christus is by ons. Nooit sal Hy ons alleen los nie.

* Al stort strukture en sisteme orals rondom ons in duie, Christus hou vir altyd stand. Elkeen wat by Hom skuil is vir ewig veilig.

bottom of page