Kom sit hier by die regte vuur
top of page

Kom sit hier by die regte vuur


Lewensgevaarlike vure brand orals, vure van haat, geweld, ongeloof en vernietiging. Die skade wat hierdie vure aanbring, is onberekenbaar groot. Almal in die nabyheid van hierdie vure brand seer. Hier doen almal ernstige brandwonde op, brandwonde van woede, bitterheid, sinneloosheid, ongeloof en vrees. Almal, wat uiteindelik vasgekeer raak deur sulke vure, leef en sterf in wanhoop. Daarom moet jy dadelik padgee, wanneer sulke vure in jou nabyheid begin brand. Moenie nog meer brandwonde opdoen nie. Kom sit dadelik by die regte vuur. Ek praat van die vuur van die Heilige Gees. Sy vuur gee goeie hitte af. Dit brand nooit seer nie. Dit vernietig nie. Die Gees se heilige vuur bied genesing vir jou siel. Dit bring ewige vrede en rus.


By die vuur van die Heilige Gees vind jy altyd veiligheid en warmte - God S’n. Hier word jou hart deur die Gees se hemelse nabyheid verwarm. Hier vind jy genesing vir al die brandwonde, wat jy elders in die lewe opgedoen het. Daarom moet jy jou laste hier kom neerlê. Hier moet jy jou pyn en seerkry voor die Here kom neersit. By die vuur van die Gees is nuwe lewe te vind. Kom verwarm jouself hier.


O ja, dalk is jyself al jare lank ’n gelowige en dalk beleef jy nie meer hierdie genesende hitte van die hemelse vuur in jou lewe nie. Dan moet jy asseblief vandag hoor wat Paulus in 2 Timoteus 1:6-7 skryf. Jy mag nie toelaat dat die vuur van die Heilige Gees ooit in jou lewe afkoel nie. Soos wat ‘n mens nuwe hout op enige vuur gooi wat begin afkoel en dit weer aanblaas, so moet jy jou eie lewe hier en nou oopstel vir die vuur van die Gees. Doen wat Paulus in vers 6 skryf: “Soos wat mens op ’n vuur blaas sodat dit sterker brand, so moet jy hierdie hemelse geskenk aanblaas deur dit nog kragtiger te gebruik.” Onthou ook wat Paulus in vers 7 vir Timoteus sê en glo dit van harte: “God het nie vir ons Sy Gees gegee wat bang en lafhartig is nie. Sy Gees is vol krag en vol liefde en vol selfbeheersing.”

bottom of page