Gesonde families is gelyk aan ’n gesonde samelewing
top of page

Gesonde families is gelyk aan ’n gesonde samelewing


Op ’n dag is die beroemde psigiater, Viktor Frankl (1905-1997), in kennis gestel dat sy visum gereed was om na die VSA toe te emigreer. Dit was gedurende die Tweede Wêreldoorlog toe hy en sy familie in Wenen gewoon het. Vervolging van Jode was toe daar in Oostenryk aan die orde van die dag. Op pad terug huis toe met sy visum, kom daar toe groot twyfel in sy hart. Wat sal van sy ouers word? Moet hy hulle oorlaat aan hulle eie lot daar in Wenen? Toe hy tuiskom, tref hy sy pa in trane aan. Hulle sinagoge is pas deur die Nazi’safgebrand. Toe wys Viktor se pa vir hom een stukkie graniet, wat hy uit die brandende gebou kon red. Een letter van die Tien Gebooie was daarop geskryf, een uit die vyfde gebod, wat lui: Eer jou vader en jou moeder!Toe bel Frankl die ambassade net daar en kanselleer sy visum. Later in Julie 1942 is hulle na die konsentrasiekamp in Theresienstadt gedeporteer, waar sy pa uiteindelik gesterf het. Sy vrou Tilly het in Bergen-Belsen gesterf en sy jonger broer naby Auschwitz. Viktor Frankl en sy suster het egter vier doodskampe oorleef, waar hyself ook gedurende die oorlog aangehou is.


Viktor Frankl se liefde vir sy familie gryp my aan die hart. Hy het gedoen wat die Here van ons in die Tien Gebooie vra. Nooit verval hierdie opdrag dat ons as kinders ons ouers moet liefhê, eer en versorg nie. In dieselfde asem moet ons as ouers ook ons kinders met liefde versorg, lei, en dra. In Efesiërs 6 roep Paulus ons as ouers juis op om nooit onbillik of liefdeloos teenoor ons kinders te wees nie. Ouers en kinders is altyd daar vir mekaar. In die taal van Deuteronomium 6 praat ouers met hulle kinders oor die Here, wanneer hulle saam aan tafel is en ook as hulle op pad is. Die Here se eer in Godvresende huisgesinne staan voorop. Dan wen liefde. Dan wen God se wil. Dan word die fondamente vir ’n gesonde samelewing reg gelê.

bottom of page