Klein is groot
top of page

Klein is groot


Lees Markus 10:44


Klein is nou die nuwe groot in God se koninkryk. Ek besef dit opnuut, toe ek onlangs die Britse liedjieskrywer, Martyn Joseph, se woorde oor Jesus se nuwe rewolusie in die wêreld lees: “God is preparing us for something really, really small.” Nee, dis nie meer net daardie groot planne wat tydens kerklike beplanningssessies gemaak word wat die wêreld in die regte rigting gaan stuur nie. Die Heilige Gees het ‘n paar nuwe wêreld-verander-planne.


Die Gees se jongste planne is verrassend vars. Dis terselfdertyd verstommend klein en uitermate eenvoudig. Sy planne gebeur teen volsterkte daar op jou eie voorstoep, as jy vir ‘n arme ‘n stukkie brood gee. Of wanneer jy kosbare tyd saam met ‘n sieke deurbring. Jesus se rewolusie gebeur elke dag op vingerafdrukvlak tussen eensames, vreemdelinge, verslaafdes en soekendes teen die spoed van een mosterdsaadjie van omgee per keer. Nee, hierdie nuwe rewolusie word nie noodwendig in die koerante beskryf, of in kerke besing nie. Jesus se stil nuwe helde is immers nie van erkenning afhanklik nie. Hulle is te besig om ander mense te dien om hulle enigsins hieraan te steur. Hulle is te besig om in gehoorsaamheid aan die sagte stem van die Gees, agter in die ry in te val om ander se voete te was en hulle met die liefde van Christus te omhels.


Gebed:

Heer, laat U koninkryk kom in die doodgewone dinge, wat ek met U liefde elke dag vir ander doen. Amen.

bottom of page