Mors jy jou tyd?
top of page

Mors jy jou tyd?


Lees Markus 10:43


“Jy mors jou tyd!” sê iemand by ‘n kerk onlangs vir ‘n jongmens, wat ‘n jaar van sy lewe afstaan saam met ‘n jeugspan van ‘n groot kerk om in arm gemeenskappe te werk. “Hoekom voltooi jy nie eers jou studies nie?” het hy bygevoeg. Net soos hierdie vraagsteller, verstaan baie mense sukses vandag slegs in terme van formele geleerdheid, die regte beroep, of ‘n suksesvolle loopbaan. Eers as jy dit alles agter die blad het, dan kan jy sulke “minder belangrike” dinge in jou spaartyd doen.


Nou ja, goeie kwalifikasies is nie onbelangrik nie. Die tragedie is maar net dat baie mense, insluitend kerklikes, dink jy doen dienswerk deeltyds, of jy los dit vir maatskaplike werkers, leraars en ‘n paar toegewydes. Hoe jammer dat ons so verblind geraak het deur ‘n vals waardesisteem, wat aan geldmaak en die ambisieuse najaag van ons eie loopbaandrome groter waarde heg as aan andere dien. Dalk moet ons weer by die grootste Dienskneg van almal gaan leer, by Jesus wat Sy lewe vir ons weggegee het. Ons moet toelaat dat Sy Gees Jesus se hart in ons binneste oorgraveer. Want eers as ons geleer het om te kyk, voel en om te gee soos Jesus, sal ons lewens in beweging kom. Dan eers sal ons toelaat dat die Gees ons vol genoeg maak sodat ons selflose diensknegte word.


Gebed:

Open my oë vir ander mense, Heer. Amen

bottom of page