Vol van jouself of vol van die Here?
top of page

Vol van jouself of vol van die Here?


Tydens ’n staatsbesoek aan Moskou ’n paar jaar gelede het die goue roltrap van die koning van Saudi-Arabië se vliegtuig skielik onklaar geraak. Ja, jy het reg gelees. Sy vliegtuig het ’n ingeboude roltrap. Toe moes die arme koning op eie stoom verder teen die trappe afstap. Dit was glo ’n groot publieke verleentheid vir al sy amptenare. Genadiglik is so ’n goue-roltrap-lewe darem nie alle vername mense se lot nie. Dink maar aan die oud-Amerikaanse president, Jimmy Carter, wie se nederigheid wyd en syd bekend is. Tot ’n paar jaar gelede het hy en sy vrou, Rosalyn, nog gereeld fiets gery. Ook het hy tot kort voor die uitbreek van die Covid-19 pandemie nog getrou Sondagskool in sy klein plaaslike gemeente in Plains, Georgia gegee.


Verwaandheid is nie ’n deug nie. Inteendeel; dit is sieldodend. Letterlik! God kan hoogmoed nie uitstaan nie. Jakobus 4 vertel vir ons dat Hy sy rug draai op diegene, wat dink hulle is beter as ander mense. Maar Hy is genadig teenoor nederiges en geringes. God roep ons as Sy kinders op om nederig voor Hom en tussen ander te leef. Nee, nederigheid is nie om minder van onsself te dink nie. Of om met ’n ekskuus-dat-ek-leef-houding deur die lewe te gaan nie. Nederigheid is om meer ván God te dink en om meer áán God te dink. Nederigheid is om met meer respek na Hom op te kyk. Wanneer ons nederig leef, raak ons harte vol van God en leeg van onsself. Dan krimp al ons behoeftes aan erkenning en belangrikwees. Dan kyk ons al hoe meer op na ander mense rondom ons. Nederigheid maak ons kleiner in onsself en ander mense groter. Die belangrikste van alles is: nederigheid maak ons klein voor God en vol van Sy teenwoordigheid.

bottom of page