Jesus maak die onmoontlike moontlik
top of page

Jesus maak die onmoontlike moontlik


Partykeer gebeur die onmoontlike. Vra vir John en Francis Canning. Hulle het op 23 Maart 2012 in die Engelse stad, Manchester, getrou. Vroeër het hulle gehoor dat koningin Elizabeth en haar man Philip ook op daardie dag in die stad sou wees. Vir die snaaksigheid stuur hulle toe aan die koningin ’n uitnodiging na hulle troue. Groot was hulle verbasing, toe die koninklike egpaar op 23 Maart by hulle huwelikseremonie in die stadsaal opdaag. Toe raak die onmoontlike moontlik op hulle troudag.


Jesus maak graag ook die onmoontlike moontlik. In Johannes 4 lees ons van een so ‘n gebeurtenis, wanneer Hy opdaag by ’n Samaritaanse vrou, wat besig was om water by ‘n put te skep. Haar lewe was behoorlik deurmekaar op daardie einste tydstip. Sy het reeds vyf huwelike op die kerfstok gehad en sy was betrokke in ‘n buitehuwelikse verhouding (vers 18). Maar Jesus het nie hierop gehamer nie. Hy het vir haar vertel dat Hy juis die Een is wat lewende water vir dorstiges uitdeel, daardie soort, wat mense se dors vir altyd les (vers 14). Vergifnis en nuwe lewe is altyd in oorvloed by Hom beskikbaar, want Hy is die Messias (vers 26). Die Samaritaanse vrou was totaal en al verstom, toe sy dit hoor! Sy kon nie glo dat Christus juis vir haar van alle mense kom kuier het nie. Dadelik het sy dit gaan vertel vir almal in haar dorpie, genaamd Sigar, gaan vertel. Hulle almal het haastig daar na die put toe gegaan. Toe gebeur die onmoontlike nogmaals. Toe loop hulle almal ook in die Messias vas. Asof hierdie ontmoeting met die Seun van God in lewende lywe nie reeds aangrypend genoeg was nie, het Jesus boonop besluit om vir twee dae by hulle in Sigar oor te bly.


Aan die einde van die twee mees onvergeetlike dae van hulle lewe het die mense van Sigar een groot belydenis op hulle lippe gehad: “Jesus is waarlik die Redder van die wêreld!” (vers 42). Vandag nog gebeur die onmoontlike, wanneer Jesus opdaag. Dan daag nuwe lewe en feesvreugde op, want dit loop hand aan hand met elke kuier van Jesus.


Hier’s goeie nuus: Jesus is vandag in jou nabyheid!

bottom of page