top of page

Alles het reggekom!


“Glo maar net - alles sal regkom,” sê hulle. Maar soms kom dit nie reg nie, in elk geval nie soos wat jy gedink het dit behoort reg te kom nie. Wat dan? Ek onthou dat iemand so iets vir my na sy ma se dood gesê het. ‘n Geestelike leier het voor die tyd ‘n paar keer vir hom gesê dat hyself by die Here gehoor het dat sy ma gesond sou word. Hulle moet maar net bly glo. Hy het! Maar toe sterf sy ma en die geestelike leier was skoonveld.


Hoe gemaak? Moet jy glo totdat alles regkom, of nie? Ja, natuurlik moet jy glo … altyd, orals en elke dag! Maar jy doen dit nie bloot net sodat “alles sal regkom” nie, want dit hét reeds! ‘n Mens noem dit die kruis! Daar het alles tussen hemel en aarde reggekom. Daar het Jesus alles tussen God en jou reggemaak. Die kruis is die heel grootste “alles sal regkom” en “alles het reggekom”, wat daar is. Omdat alles reeds reg is, kan jy God met jou lewe vertrou en met dié van jou dierbares. Jy kan dit doen, al werk alles nie uit soos wat jy dit beplan het nie.

Comments


bottom of page