Is jou geloof onverantwoordelik?
top of page

Is jou geloof onverantwoordelik?


Lees 1 Korintiërs 1:25


Diegene, wat aan Christus vashou, word dikwels in die media voorgestel as minder intelligent en soms ook afgemaak as onwetenskaplik en naïef. Die hoëgrond behoort blykbaar net aan twyfelaars, wat hul geleerde taal om elke hoek en draai in die openbare media uitstal. Maar wag, dis ewe naïef om te dink dat alle mense, wat in God se bonatuurlike werkinge glo, aan ‘n uitgediende “escape from reality”-sindroom ly, of dat hulle in een of ander kerklike donkerte gevange gehou word.


Vir die meeste navolgers van Jesus gebeur hulle geloof op voetsoolvlak, nie in akademiese sale of in die koerante nie! Ek praat van geloof in die lig van die eenvoudige belydenis dat Christus die opgestane Heer is. Is ‘n vertrekpunt soos hierdie inperkend? Ja, natuurlik! Dis net so inperkend as wat ‘n rugbybal rugbyspelers inperk, of as wat moderne markaanwysers die gesprekke van ekonome omraam. In gewone taal gesê, geen geloof, geen wetenskap en geen gesprek is ooit objektief of neutraal nie. Waarom die kerk dus so maklik hieroor in die beskuldigdebank loop staan, slaan my dronk!


Moenie apologie oor jou geloof teenoor die wêreld aanteken nie. Jy is nie ‘n indringer hier op aarde nie, al is jy uit pas met party ander aardbewoners, wat nie soos jy glo nie. Dit maak slegs saak dat jy in pas met die Gees leef. Sy goedkeuring is al wat tel.


Gebed:

Here, al is ek alleen, staan ek nogtans op U heilige grond. Amen.

bottom of page