Instinktiewe reaksie
top of page

Instinktiewe reaksie


Instinktiewe reaksie

My wyse moeder het in die grootmaak van haar sewe kinders ‘n paar dinge in ons ingeprent. Een daarvan was wat om in geval van ‘n brand te doen: As dit iets op die stoof is, sit ‘n deksel daarop. As dit ‘n ander klein genoeg brand is, gooi ‘n (wol)kombers daaroor. My toets het op universiteit gekom toe ek en my kamermaat een wintersoggend vroeg moes opstaan om verder vir ‘n toets voor te berei. Ek het vaagweg die wekker gehoor en die lig (en elektriese verwarmertjie) aangeskakel. Minute later het ek haar deur die slaapnewels heen my naam hoor roep. Toe ek behoorlik wakker was, was my kombers reeds bo-oor die brandende japon, wat deur die nag afgegly en op die verwarmer beland het. Die kombers was beskadig, maar die brand was geblus!


So het Moeder my in tye van min of geen stres geleer om in ‘n krisissituasie op die regte manier te reageer. Om in ‘n krisissituasie die regte instinktiewe reaksie te hê en op die regte manier op te tree.

Die Life Application Bible lewer so kommentaar oor die vorming van Moses as leier: If we want to react with instincts consistent with God’s will, we must develop habits of obedience to God. Consistent obedience to God is best developed in times of less stress. Then when stress comes, our natural reaction will be to obey God.

Op dieselfde manier sal ‘n maraton-atleet ter voorbereiding met gereelde korter afstande begin en dit geleidelik vermeerder om sy/haar uiteindelike maraton-afstand te kan doen.


Wat ‘n geestelike marathon of selfs geestelike naelloop betref, weet ons nie altyd wanneer ons sal moet aantree nie. Dis egter lewensbelangrik om toegerus te wees. Dis dié dat Paulus vir Timoteus daaraan herinner: “Om jou liggaam te oefen, het wel ‘n bietjie waarde, maar om in toewyding aan God te lewe, het in alle opsigte groot waarde, want dit bevat ‘n belofte van lewe, vir nou en die toekoms.” (1 Timoteus 4:8 AFR83)

Hierdie geestelike oefening behels onder andere dat ek my geestelike “spiere” voorberei en oefen om asof outomaties reg te reageer. Dit doen ek deur, sover moontlik, daagliks tyd in die Bybel te spandeer, om God so toe te laat om my denke te vernuwe. (Romeine 12:2) Ek doen dit ook deur insette te kry van geestelike leiers, wat die Bybel as God se onfeilbare Woord sien en die beginsels daarin vir ons duideliker maak. Deur self te doen wat die Woord sê: gehoorsaam in die voetspore van Jesus te volg, outomaties my pas by Syne aan te pas. Dan gaan ek, soos Hy, met liefde uitreik na mense om my, wat swaarkry en / of soekend is. Dan gaan my instinktiewe reaksie die meeste van die tyd in lyn wees met God se wil, gaan ek ‘n faktor ten goede in Sy Koninkryk wees.

bottom of page