Hoe weet jy of jou keuses in lyn is met God se wil?
top of page

Hoe weet jy of jou keuses in lyn is met God se wil?


Hoe weet jy of die keuses, wat jy maak, die regte keuses is? Hoe weet jy wat God se wil vir jou lewe is? Sulke vrae klop dikwels aan jou lewensdeur, as jy ernstig oor jou geloof is. Jy wil graag weet wat God se wil is, want jy wil daarvolgens handel. Die Bybel deel ’n klompie lewensbelangrike beginsels hieroor met ons. Een beginsel, wat egter kop en skouers bo die res uittroon, word as volg in Kolossense 3:17 verwoord: “Wat julle ook al doen of sê, doen dit alles in die Naam van die Here Jesus. So sê julle vir God die Vader dankie deur Hom.” (NNT Vertaling)


God se eer moet voorop staan in alles, wat jy dink, sê en doen. Jy moet jouself dus in elke besluit, wat jy neem afvra, hoe jou keuses jou lewe se fokus na God toe sal verskuif. Sal jou besluit ’n luidkeelse dankie uitbasuin in Sy rigting? Sal dit veroorsaak dat ander mense God beter raaksien? Sal jou keuse van ’n nuwe werk, ’n nuwe adres, ’n nuwe vriend of ’n ander leefstyl tot gevolg hê dat God regtig vereer word, of gaan jou keuse net jouself bevoordeel?


Onthou, jou keuses gaan nooit eerste oor jóú gerief, jóú voordeel, of jóú veiligheid nie. Dit gaan oor die Here, tot wie se lof en eer jy leef.

bottom of page