Hoe val jy as jy die slag ver val?
top of page

Hoe val jy as jy die slag ver val?


Lees 2 Korintiërs 4:10


Sukses, voorspoed, oorwinning … dis terme wat ons goed ken. In die skool het ons geleer dat die kinders met al die A-simbole die eintlike wenners is. Diegene, wat vir die eerste span speel, maak die meeste saak. Wenners staan voor, verloorders staan agter. Dis min of meer die goue reël van die lewe. Ongelukkig het die lewe ons nie grootgemaak vir mislukking nie. Ek sê “ongelukkig,” want mislukking is soms ook ‘n deel van die lewe. Ons almal misluk, faal, struikel, slaan neer of beland met ons gesigte in die modder. Middelmatigheid, teenstand en verlore kanse is soms ons bondgenoot.


Gewoonlik spel groot mislukkings vir baie die einde van geluk. Dan gee hulle boedel oor en alles val inmekaar. Hoor hier, dis nie waar nie. Op die ou einde hang alles daarvan af hoe ons mislukkings hanteer. Soos wat ‘n wyse eenmaal gesê het: “Die lewe is ‘n stel trappe. Jy het die keuse of jy dit wil gebruik om boontoe te klim of om verder ondertoe te loop.”


Paulus self moes ook leer om mislukkings en teenslae in die oë te kyk. Hy deel iets hiervan met ons deur die loop van 2 Korintiërs. Hy moes vervolging, beledigings, skynheiligheid en rugstekery onder gelowiges gedurig in die oë kyk. Maar die Gees het hom elke keer opgetel. Paulus het inderdaad juis God midde in sy teenslae ontdek. Presies daar was God die naaste aan hom en op Sy genadigste.


Gebed:

Dankie dat U ook in die storms naby is, Here. Amen.

bottom of page