Hoe om vir langer as 14 dae gelukkig te wees
top of page

Hoe om vir langer as 14 dae gelukkig te wees


Abd al-Rahman III was die leier van Cordoba tussen die jare 912-961. Sy onderdane was baie lief vir hom. Sy vyande het hom gevrees. Hy was skatryk en magtig. Toe hy egter op 70 jarige ouderdom al die dae van sy lewe bymekaar tel wat oorgeloop het van geluk, kon hy slegs veertien sulke dae identifiseer.


Wag! Briek net vir ’n oomblik en lees dit weer: Abd al-Rahman III kon net veertien super-gelukkige dae identifiseer in sy lewe, ten spyte van al sy rykdom en mag!


Die meeste mense beleef nooit enige blywende vreugde of lewensvervulling nie. Hoekom nie? Wel, hulle glo dit is eintlik net te vind in nog meer - nog meer geld, genot, besittings, mag… Vir lank het die Prediker daar in die Ou Testament dieselfde geglo en nagejaag. Toe het hy bevind die ganse lewe was ’n gejaag na wind. Dit skryf hy oor en oor. Toe maak hy egter ’n verrassende ontdekking. Toe ontdek hy dat om brood te breek in God se teenwoordigheid en saam met ander, is om egte lewensvervulling te proe. Vyf keer basuin die Prediker dan hierdie eenvoudige, lewensveranderende waarheid uit dat jy jou brood moet breek met vreugde. Dit is God se blywende vreugde-geskenk aan jou (Prediker 2:25; 3:13; 5:17; 8:15; 9:7).


Lewensvervulling wag hier op jou eie voorstoep. Maar jy loop dit mis omdat jy nie glo dat blywende lewensvreugde ingemessel is in eenvoudige roetes soos daaglikse lewe-doen, kuier en brood-breek saam met die Here nie. En in lewe-doen saam met ander mense rondom ’n stukkie brood of ’n beker koffie nie. Wel, God nooi jou uit om presies dit te begin doen, vandag nog. Dan sal jy meer as 14 dae se geluk ontdek. Dan sal elke nuwe dag ’n spesiale dag wees saam met die Here en ander. Dan sal geluk jou vind sonder dat jy dit soek.

bottom of page