top of page
Writer's pictureStephan Joubert

So leef iemand wat God se hart roer


Marietjie, my beste helfte, vertel nou die dag hoedat ’n dame wat sy ken, en wat dit self nie finansieel breed het nie, by ’n supermark ’n tweede myl gestap het vir iemand anders. Dit was ’n bejaarde man wat hulpeloos daar voor die winkel rondgestaan het. Toe vra hierdie dame spontaan vir hom wat het hy nodig. “Dis my vrou se verjaarsdag, en ek kan nie eers vir haar ’n verjaarsdagkoek koop nie,” het die 86 jarige man verleë geantwoord. Toe gaan koop sy net daar R800 se kos vir hom… en ’n groot verjaarsdagkoek. “God het hom op my radarskerm geplaas,” het sy na die tyd gesê. “Hy sal weer vir my voorsien.”


Ek het vir my vrou gesê daardie dame is ’n moderne Me. Spreuke 31. In hierdie laaste hoofstuk van Spreuke word hierdie vrou deur God uitgelig as die tydlose voorbeeld van wysheid en geloof. Sy inspireer haar man en haar huis (vers 11-12). Sy is hardwerkend en kreatief (v.13-19). Haar sake-vermoëns is sonder weerga. Sy sorg vir arm mense, en vir al haar werkers (vers 20). Sy maak altyd seker haar gesin is veilig en warm (vers 21). Sy het hope styl en finesse (vers 22). Sy het ’n sterk persoonlikheid en baie integriteit (v.23). Nee, Spreuke 31 se dame is nie daardie tipiese onderdanige vrou wat aan stilstuipe ly en nie ’n sterk persoonlikheid van haar eie het nie. Haar man en haar kinders kyk juis op na haar omdat sy goeie leiding gee aan hulle (vers 26-28). Haar getuienis is daarin geleë dat sy die Here getrou dien. Haar getrouheid aan die Here is haar ware skoonheid. Daarom bewonder almal wat met haar te doen het haar manier van leef (vers 29-31). Kom ons leer by Me. Spreuke 31 hoe om wys en reg te leef. Kom ons leer by haar hoe leef iemand wat God se hart roer.

Commentaires


bottom of page