Navolgers van Christus is nie toeskouers nie
top of page

Navolgers van Christus is nie toeskouers nie


“Baie mense dien nie meer die Here nie.” “Dit gaan sleg omdat die mense van Suid Afrika nie vir God eerste stel nie.” “As mense net terugkeer na die Here toe, sal Hy ons land seën.” “As mense net wil kerk toe kom, sal dit beter gaan met ons mense.”


Elke keer as ek sulke uitdrukkings hoor, is ek uitasem. Ek meen, wanneer sal diegene wat sulke dinge sê, tevrede wees? Wanneer meen hulle sal genoeg mense God dien, en Hom eerste stel? Wanneer sal genoeg mense terugkeer na die Here toe, en na die kerk toe? Moet ons een of ander persentasie aan sulke uitsprake heg, soos 50% van die bevolking? Of dalk 60%? Wanneer is genoeg, genoeg? Of is dit verkeerde vrae wat mense net nog meer magteloos en gefrustreerd laat voel?


Feit is, daar was nog altyd te veel sonde en sondaars op die toneel, en te min heiliges. Ek vermoed dit sal presies so bly totdat die Here eendag terugkeer. Om dus gedurig vir mekaar te probeer oortuig hoe sleg dit gaan omdat ander mense God teleurstel, is sieldodend! Dan lê die fout altyd by “hulle.” As “hulle” tog net wil verander, sal dinge stukke beter gaan. Maar die goeie nuus is dat baie van “hulle” reeds verander het, want die Here is steeds besig om sy koninkryk te laat kom. Armes kry orals kos; siekes word genees, en mense kom tot inkeer op baie plekke. Ons moet maar net ons manier van kyk verander. Ons moet minder raaksien wat verkeerd is en meer raaksien wat God doen voor die skerms en agter die skerms. Ons is nie geroep om vanaf ‘n veilige afstand die wêreld en die kerk se foute uit te wys nie. Ons moet skuif van toeskouers na aktiewe spelers. Dan doen ons reg. Dan eers gaan ons raaksien dat God se koninkryk met ’n onstuitbare opmars besig is in die wêreld. Ek meen, het Jesus dan nie self gesê dat die koninkryk soos mosterdsaad is wat gedurig groter en groter groei nie, Maar dan moet ons die regte oë hê, oë wat God se werke raakkyk.

bottom of page