Here, wanneer dan?
top of page
  • Writer's pictureekerk

Here, wanneer dan?

deur Roedolf Botha


In hierdie My Wêreld nuusbrief vra Roedolf Botha of die Here daarvan hou om "Wanneer-vrae" te beantwoord?
Here, wanneer dan?

Almal vra wanneer die pandemie dan nou tot ‘n einde gaan kom. Wanneer kan alles weer aangaan? Wanneer kan ons weer mens wees? Waarom gee die Here nie vir ons die antwoord nie? So wou mense al by my weet. Dis alles verstaanbare vrae en ons moet natuurlik bid, daaraan werk en hoop dat dinge ekonomies en medies spoedig gaan verbeter. In die Nuwe Testament sien ons egter dat die dissipels vir Jesus ‘n soortgelyke vraag gevra het (Handelinge 1:6-8a):


“Here is dit nou die tyd wanneer U die koninkryk vir Israel weer gaan oprig?” Hy het hulle geantwoord: “Dit is nie vir julle om die tyd en omstandighede te weet wat die Vader in sy eie mag bepaal het nie, maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom...”


‘n Stukkie agtergrond. Israel was op daardie stadium in uiters ongunstige politiese omstandighede. Vir byna een honderd jaar was hulle al onder Romeinse bewind. Dit was nie hoe dit veronderstel was om te wees nie. Hulle het geglo dat God hulle vry sou maak van verdrukkings. Nou – in daardie tyd – het die vyand egter hulle daaglikse lewens gevange gehou, hulle veiligheid bepaal en hulle ekonomie beheer. Die finale aanbreek van die koninkryk sou al hierdie dinge kom beëindig en die Joodse godsdiens en wêreld weer leefbaar maak. Die finale aanbreek van God se regering sou die wêreld weer genees en heel maak.


Die Here hou egter nie daarvan om Wanneer-vrae te beantwoord nie. Toe baie Israeliete weggevoer is in 586 vC na Babilonië, het almal gevra wanneer dit gaan eindig en wanneer hulle weer terug kan keer na hulle vaderland toe. Daar was valse profete wat beweer het dat die ballingskap sommer vinnig gaan eindig. Jeremia tree egter in hierdie tyd op en motiveer die ballinge om nie die valse hoop van die danige profete te aanvaar nie (vgl. Jeremia 29:8). Nee, die ballingskap sou nog sewentig jaar duur! Ook in die evangelies wil die mense weet wanneer Jesus weer sal kom. Jesus antwoord dan dat hierdie soort van dinge nie vir ons bedoel is om te weet nie. Slegs die Vader weet die tyd (Mt 24:36). Waarom antwoord die Here dan altyd so vaag en geheimsinnig wanneer ons meer konkrete inligting soek? Is Hy dan moedswillig? Weet Hy dan nie wat ons nodig het nie?


Wel, dis juis die punt: Wanneer mense te veel dinge vooruit weet dan is die probleem dat hulle juis hulle hoop stel op die omstandighede wat gou gaan verander en nie op God nie. Oorloë en pandemies werk soos bouprojekte: dit neem altyd langer en is altyd duurder as wat mens dink dit gaan wees. Dit was so met die eerste- en tweede wêreldoorloë sowel as die Spaanse Verkoue van 1918. Dis egter nie vir ons om te weet nie. God gee nie vals hoop nie. Dit gaan ons nie help nie. Vir God om ons sterk te maak vir storms, gee Hy nie die antwoord oor wanneer dinge gaan eindig nie. Hy gee eerder Homself, sy teenwoordigheid! Hy gee sy Gees. Die Gees is Jesus teenwoordig by ons. Jesus wat verstaan, wat ook deur die virus van ons sonde aan die kruis gehang het.


Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom. Die Gees gee ons krag deur ons te plaas en te hou binne-in die storie van Jesus. Hy verander nie die eksterne omstandighede op ons terme nie. Die Romeine was immers steeds aan bewind. Korona is steeds vandag met ons. Sy Gees bring eerder ‘n genesende beweging in ons harte. Hy steek eerder ons harte aan die brand met die geloof, hoop en liefde wat aan ons lewens sin en betekenis gee.


Ons weet egter ons hoop lê in Hom. Ons weet dat Hy wel eendag alles gaan nuut maak, dalk selfs gouer as wat sommige dink. God kan wel ingryp en alles nou stop. Maar totdat dit gebeur moet ons onthou:


Dis nie vir ons om te weet nie…


Maar ons sal krag ontvang…


God is met ons.

bottom of page