Heerlikheid groei
top of page

Heerlikheid groei


Lees 2 Korintiërs 3:18b


Dit is verstommend dat God se heerlikheid in ons lewens nie ‘n statiese toestand is nie. Die Here red ons nie net en laat staan ons dan net soos wat ons is nie. Inteendeel. Sy heerlikheid groei in ons. Sy teenwoordigheid by ons is dinamies, omdat ons in ‘n lewende verhouding met die drie-enige God staan. Soos wat ons weet, veronderstel enige gesonde verhouding groei. Dis lewensveranderend. Aanhoudend, oor en oor, is God se Gees besig met Sy nuutmakende werke in ons elkeen. Daarom word dit wat God in ons doen, toenemend sigbaar en straal dit al hoe duideliker na buite uit. Van binne na buite word ons na God se beeld van heerlikheid verander. Aanhoudend, toenemend, groeiend en al hoe meer God-weerkaatsend werk die Heilige Gees in ons.


Die Gees, wat ons op ‘n dag tot God se eiendom gemaak het, verander ons aanhoudend. Dag vir dag gaan Hy vorentoe met ons, Godwaarts! Ons word meer en meer omvorm tot daardie mense, wat Hy ons wil hê ons moet wees deurdat Hy sonde en ander onsin uit ons lewe verwyder wat in die pad van God se heerlikheid staan. Ons is inderdaad onder permanente konstruksie van die Heilige Gees. Hy is voltyds en aktief met ons elkeen onderweg. Kom ons loof en prys Sy heilige Naam. Kom ons val in eerbetoon voor Hom neer.


Gebed:

Here, Drie-enig, in nederige eerbied besing ek U grootheid. Amen.

bottom of page