Groepsdruk: Is ek die rolmodel of die volgeling?
top of page

Groepsdruk: Is ek die rolmodel of die volgeling?


 Volgens Wikipedia is groepsdruk (of sosiale druk) die direkte invloed wat ʼn mens se portuurgroep op hom of haar uitoefen. Groepsdruk vind plaas wanneer ʼn individu aangemoedig word om sy of haar portuur se voorbeeld te volg deur houdings, waardes of gedrag te verander om by dié van die individu of groep, wat invloed uitoefen, te pas.

Groepsdruk lei daartoe dat 'n individu se optrede verander in reaksie op 'n gevoel van druk deur ʼn portuurgroep. (LW: Selfs net op ‘n gevoel van druk!)

 

In ons jonger jare het “al ons vriende” universiteit toe gegaan en “almal” het, nadat hulle hul graad verwerf het, getrou. “Almal” het binne die eerste paar jaar van hulle huwelik met ‘n gesin begin. Sonder om te dink het ons dieselfde gedoen. Hierdie indirekte groepsdruk het ongevraag ‘n groot rol in ons lewe gespeel.

 

Die verliefdes en verloofdes van vandag, veral die Christene onder hulle, het self ook die indirekte groepsdruk van “almal” wat voor die huwelik saambly of ten minste saamslaap. Wanneer “al” my wêreldse én Christen-vriende dit doen, is dit seker nie verkeerd dat ek dit ook doen nie? Behalwe wanneer ek die Bybel se siening van die huwelik ernstig opneem.

 

Dis veral wanneer ek ‘n vriendekring met ander waardes as my eie opbou, dat my lewe radikaal beïnvloed kan word. Dis geen wonder dat Psalm 1 waarsku teen “loop” en “staan” en “sit” saam met die verkeerde geselskap nie. Vir my persoonlik beteken dit dat ek waaksaam moet wees, wanneer ek tyd saam met iemand spandeer. Veral wanneer ek kuier oor ‘n koppie koffie, ‘n lekker bier, of ‘n glasie wyn saam met ‘n ete, is daar geleentheid waar ‘n verkeerde “beïnvloeder” my as ‘n potensiële “volgeling” op ‘n foutiewe spoor kan laat beland.

 

Op sosiale media, maar selfs in ons alledaagse lewe, kry ons die influencer (rolmodel) wat baie ander oortuig om ‘n sekere leefstyl te volg of produk te koop. Die res van ons is dan die followers (volgelinge). Hier kan ek self ook in die strik trap van swak besluite neem, soos wat Herodes onder druk gedoen het. Omring deur ’n groep “beïnvloeders” en “volgelinge”, het hy gekies om toe te gee aan die druk van sy “beïnvloeder”-vrou-skoonsuster d.m.v. haar “volgeling”-dogter en opdrag gegee om Johannes die Doper te laat onthoof, al het hy respek vir die profeet gehad.

 

Dit laat my opnuut besef hoe belangrik dit is dat ek sal kies aan watter “groep” se “druk” ek myself sal blootstel en dat ek deur my voorbeeld van ‘n Gees-beheerde lewe self ‘n beïnvloeder sal wees wat ander sal inspireer om Bybelse riglyne te volg om in Jesus se voetspore te volg.

 

Albert Schweizer: Example is not the main thing in influencing others – it is the only thing.

 

bottom of page