God is getrou en sorg altyd vir ons
top of page

God is getrou en sorg altyd vir ons


Stormie Omartian vertel in haar boek, “Just enough light for the step I am on”, hoe sy en haar man jare gelede in ‘n erge finansiële krisis beland het en dit gelyk het asof hulle hul huis gaan verloor. Sy was swanger, ernstig siek en het gewonder hoe sy in haar toestand ‘n ander plek sou kry en dan nog trek ook. Alhoewel dit soos ‘n ewigheid gevoel het, is die krisis binne ‘n paar maande uitgesorteer en kon hulle hul huis behou. Te midde van hierdie krisis het hulle geleer dat God vir hulle sorg en dat hulle op Hom kan vertrou.


Dié God, wat die heelal geskep het en voedsel aan elke lewende wese gee, sorg ook vir jou en my. Wanneer dit goed gaan, is ek nie so bewus daarvan nie - dit gaan eintlik ongemerk by my verby. Ek is dalk hier en daar dankbaar oor iets wat my opval, maar oor die algemeen “we’re just cruising along”.

Dit is wanneer dinge verkeerd loop dat ek intens bewus van my afhanklikheid van Hom raak. Dit is dan wanneer ek weer herinner moet word dat God steeds getrou is, dat Hy steeds elke dag in my behoeftes sal voorsien.  Dit gaan dalk nie gebeur soos wat ek dit wil hê nie, maar in Sy genade gee Hy wat ek nodig het.


My Hemelse Vader voed my ook met Sy spreekwoordelike manna, wanneer ek vroegoggend in Sy teenwoordigheid stil word. Daar versterk Hy my met Bybelse waarhede en word ek met Sy vrede en kalmte gevul. My probleme is nie weg nie, maar ek is versterk en het krag om die eise met nuwe perspektief aan te pak.


Wanneer ek op Hom vertrou om vir my te sorg, kan ek dίt, wat ek ontvang, gaan deel met ander, wat nie het nie, soos die seuntjie wat sy vyf broodjies en twee vissies gegee het waarmee Jesus ‘n wonderwerk gedoen het. God wil my dalk as antwoord op ander se gebede gebruik. So het Maria Kloppers van die Maria Kloppers Kinderhuis in Johannesburg gedurende die 1900’s in Observatory, Johannesburg, getuig hoe daar telkens deur anonieme donateurs in die behoeftes van die Kinderhuis voorsien is. In die nag het hulle mandjies met kos voor die deur gelos, net betyds vir die volgende oggend se ontbyt. Haar gebede is verhoor!


Ek kan God met vandag én môre én oormôre vertrou. Ek kan altyd op Sy belofte vertrou dat Hy ruimskoots in al my behoeftes sal voorsien, in ooreenstemming met sy heerlike rykdom in Christus Jesus”. (Filippense 4:19)

Recent Posts

See All
bottom of page