Goeie leiers skep lerende gemeenskappe
top of page

Goeie leiers skep lerende gemeenskappe


Jare gelede al het Noel Tichy in sy boek, The Leadership Engine, gebaseer op jarelange navorsing in vele organisasies, beweer dat organisasies, wat langtermyn sukses behaal, lerende organisasies is. Met sukses het hy veral twee dinge bedoel, naamlik die voortdurende toevoeging van waarde aan die een kant, asook volgehoue uitmuntendheid. Met ‘n tipiese Bybelse raamwerk kan ‘n mens sê dat so ‘n organisasie of gemeente langtermyn getrou is aan die evangelie en Sy waardes, die gemeenskap effektief dien en voortdurend die vrug van groei behou. Met lerend word bedoel dat hulle die opdoen van kundigheid sien as ‘n voortdurende, dinamiese proses van groei. Leiers van so ‘n organisasie hou dus nooit op leer nie en self hou hulle nooit op om die lede van die organisasie te leer nie.

Om ‘n lerende organisasie te wees en te bly, beweer Tichy, moet daar voortdurend leiers op elke vlak van funksionering in die maatskappy ontwikkel word. Op sy beurt kan dit slegs begin en posvat, wanneer die algemene kultuur van die groep of departement ‘n kultuur van voortdurende leer is. Dit beteken dat daar aanhoudende prosesse leef, waarbinne alle mense voortdurend uitgedaag en toegerus word om te ontwikkel en groei. Hierdie is iets, wat nooit ophou in ‘n gesonde organisasie nie. Dit gebeur min of meer soos volg:

1. Die leiers, wat die beste rekord het van goeie karakter en sukses, neem die verantwoordelikheid om ander leiers te ontwikkel. Hierdie oordraagbare kennis is dus nie blote kopkennis en akademiese oefeninge nie. Dit vloei spontaan uit die reeds bestaande praktyke van hierdie leiers, nie noodwendig deur hoog gekwalifiseerde akademici nie.


2. Hierdie leiers beskik oor ‘n bepaalde spontane kurriculum, wat ‘n “TPV”, ‘n Teachable Point of Viewgenoem word. Hierdie TPV’s is saamgestel deur elke leier en bestaan uit die poel van idees, wat hy oor die jare heen bymekaar gemaak het, die waardes waaroor hy beskik, sy emosionele energie en intelligensie, asook die intuïsie, wat hy ontwikkel het deur middel waarvan hy elke dag besluite neem. Hierdie TPV’s word dan verpak in maklik verteerbare brokkies kommunikasie, wat aan enige iemand anders oorgedra kan word.


3. Doelbewuste opleiding- en ontwikkelingsessies word dan weekliks geskeduleer waar groepe saam kan leer en individuele interaksies ook plaas kan vind. Hierdie TPV’s word nie in almal se kele afgeforseer nie, maar deur middel van sinvolle besprekings en dinkskrums oorgedra. Dikwels word vrae vooraf gevra sodat voorbereiding deeglik gedoen kan word. Vrae, wat voorberei word, kan soos volg daar uitsien:


- Van môre af is jý die Hoof Uitvoerende Beampte van die maatskappy. Wat sal jy dadelik verander in die eerste 30 dae te laat floreer? Het jy ‘n visie van hoe jy hierdie skuiwe sal maak? Hoe sal jy so ‘n visie ontwikkel? Lê môre vir ons so ‘n visie voor. Watter praktyke sal jy verder uitbou en ontwikkel? Watter praktyke sal jy summier stop? Op grond waarvan sal jy hierdie besluite neem?

- Beskryf ‘n dilemma wat jy die laaste jaar die hoof moes bied. Hoe het jy dit gedoen? Wat dink jy kan ons ander daaruit leer?

- Beskryf ‘n voorstel wat jy sou maak om die kwaliteit van liefdesdiens aan die gemeenskap te verhoog.

- Ons gaan ook gesels oor A, B en C deelnemers. Deel jou gedagtes met ons oor watter eienskappe mense in elkeen van hierdie kategorieë oor behoort te beskik.

- Ons gaan ook praat oor die oordra van energie na almal in die maatskappy. Wat is jou gedagtes hieroor?


4. In hierdie gesprekvoerings asook die spontane gesprekke in die wandelgange, deel leiers hulle lewenstories, asook die baie foute wat hulle voortdurend maak en die lesse wat hulle duur te staan gekom het, met die mense. Dit is belangrik Kwesbaarheid is belangrik om te toon.


Vir ‘n leier, wat ook ‘n Jesus-volgeling is, behoort die voortdurende ontwikkeling en groei van sy eie mense uiters noodsaaklik te wees, aangesien dit nimmereindigende koninkrykwaarde het. Wanneer die werksplek ook die plek word waar mense werklik groei in hulle persoonlike hoedanigheid, vaardighede en karakter, dan raak werknemers uiters lojaal en sal hulle aanhou om waarde toe te voeg, ongeag die vergoeding.

© 2024 Ekerk Vereniging.

Trots gebou deur Ekerk.

Ekerk bankbesonderhede:


Ekerk Vereniging,

ABSA Bank, Takkode: 632 005,

Rekening: 4059 699 232

South Africa | Suid Afrika

Payfast_white.png
snapscan grys_edited_edited.png
Zapper logo wit.png

Vind, volg & bevriend ons hier:

  • Whatsapp
  • White Instagram Icon
  • White Facebook Icon

Laai ons "app" af:

Apple store wit.png
bottom of page