Hoe om ‘n rebelse leier te wees
top of page

Hoe om ‘n rebelse leier te wees


Is ‘n Christen-leier veronderstel om rebels te wees? Sekerlik nee en ja. Indien ‘n mens met rebels bedoel dat ‘n mens se leierskap in opstand teen God kom, of dat jy bloot soos ‘n renoster in ‘n sitkamer alles breek nes jy voel, of dat jy bo-oor mense loop en lyke agterlaat, of dat jy stroom-op loop bloot omdat jy pyn en seer verdra sonder om die Here se genesing in te nooi, dan is die antwoord op die vraag natuurlik nee.


Maar wat as mens met rebelse leierskap bedoel dat Jesus ook, in ‘n sekere sin, ‘n rebel was? Dat Hy nuwe openbaring aangaande God, wat nie altyd ingepas het by die godsdienstige gees van Sy tyd nie gebring het. Wat as ‘n mens bedoel dat ‘n leier vandag, sonder om van die storie van Jesus en die Bybel af te wyk, nuwe grond kan breek deur vars, innoverende maniere te vind om God se koninkryk te dien? Francesca Gino beweer dat dit presies die soort van leierskap is wat die wêreld vandag nodig het. In ‘n artikel, wat die Harvard Business School oor haar boek gepubliseer het, beskryf sy rebelse leierskap as, volg:


When I think of rebels, I think of people who break rules to explore new ideas and create positive change.

Alan Hirsch beskryf hierdie soort leierskap as apostoliese leierskap. Soos Paulus bly hierdie soort leiers op die pad en steek gedurig grense na nuwe moontlikhede oor. Dis die soort van leierskap, wat juis ontbreek by groot instansies en denominasies, wat al deur die jare burokratiese kulture gevorm het wat hulle juis meer skade doen as goed. Ons kerke, besighede van entrepreneurs en korporatiewe maatskappye het inderdaad heilige rebelle as leiers nodig. Dis meer as ooit tevore in hierdie onvoorspelbare, vinnig veranderende tye van vandag nodig. Groot denominasies en korporatiewe instansies het veral die reputasie dat hulle innoverende, kreatiewe en apostoliese leiers spontaan onderdruk, uitwerk en verloor, sodat slegs burokrasie later oorbly.


Maar hoe lyk rebelse leierskap presies wanneer dit effens dieper omskryf word? In die Harvard-artikel noem Gino agt tipiese werkswyses en kenmerke van rebelse leiers:


1. Rebelse leiers soek onophoudelik na die nuwe


Hiermee word bedoel dat sekere leiers die versoeking konsekwent weerstaan om in blote roetines en die klakkelose navolging daarvan dag na dag terug te val. Hierdie soort leiers help organisasies om, waar tradisies en roetines bestaan wat sake in ‘n statiese toestand hou, weg te breek daarvan en nuwe inspirasie elders te vind. Dit beteken om selfs praktyke te ondersoek wat ooglopend nie verband hou met die maatskappy se “manier van doen” nie, maar wat uiteindelik die gepaste innovasie, wat nodig is, teweegbring. Hierdie leiers het dus antennas, wat gedurig seine van nuwe moontlikhede, wat vars asem kan inbring, opvang.


2. Hulle skep “konstruktiewe onenigheid”


Gino wys daarop dat mense, en baie leiers, gewoonlik slegs een perspektief behou en dis hulle eie. Die meeste mense verander nie hulle denke nie en hou ook nie daarvan om hulle opinies te verander nie. In dialoë en vergaderings het ons die natuurlike geneigdheid om mense uit te soek wat aansluit by ons eie perspektiewe, idees en opinies. Mense doen dit gewoonlik nie doelbewus nie. Dit gebeur net so. Ons soek mense, wat dieselfde soort bydrae aanbied as waarmee ons gemaklik is. Rebelle stry egter teen hierdie instink deur met mense gesprekke te voer wat opbouende konflik bring. Die uitvoerende direkteur van die baie suksesvolle welsynsorganisasie, Catchafire, Rachel Chong, sê dat sy selfs in onderhoude met kandidate vir poste in die maatskappy, op soek is na mense wat van haar verskil. Sy doen dit, omdat sy weet hierdie persoon gaan hulle help om nie vasgevang te raak in ou geykte maniere van doen nie, maar gaan hulle help om na nuwe denkwyses en effektiewe strategië uit te breek.


3. Hulle stuit nie gesprekke nie, maar open gesprekke


Rebelle hou hulle eie denke en denkwyses altyd oop. Gino gebruik veral die voorbeeld van improvisasie in die standup comedy industrie. Dit behels dat, wanneer ‘n komediant met ‘n onderhoudvoerder in gesprek is, hy altyd die uitgangspunt, wat die ander persoon gebruik, aanvaar en daarby aansluit. Jy sluit aan deur woorde te gebruik soos “Ja, en ...”, in plaas van “Ja, maar...”. In die animasiestudio, Pixar, noem hulle dit plussing. Plussing gaan van die standpunt uit dat elke idee, wat genoem word, verbeter word in plaas van om dit teen te staan. Met ander woorde, jy voeg by by wat ‘n persoon sê in plaas daarvan om te kritiseer. Dit beteken natuurlik nie alle idees is goed of reg nie. Dit beteken wel dat organisasies baie meer op hierdie manier leer, as wanneer hulle alles heel eerste afskiet.


4. Hulle openbaar hulleself en reflekteer dan


Rebelse leiers is blatant eerlik oor hulle sterkpunte sowel as hulle swakpunte. Hulle kommunikeer dit helder en duidelik. As iets buite die grense van hulle vermoëns of kennis val, dan sê hulle so en probeer nie antwoorde gee wat hulle nie het nie. Hulle vra egter nie verskoning vir die dinge, waarmee hulle goed is nie, en kapitaliseer daarop. Rebelle reflekteer egter diep aangaande areas, waar hulle swak is en probeer nuwe dinge leer waar nodig.


5. Rebelse leiers leer alles, wat hulle kan, en vergeet dan wat hulle kan


Rebelle leer altyd die reëls en protokol van hulle industrie, maar hulle laat nooit toe dat daardie reëls hulle begin gevange hou nie. Hulle ontwikkel ‘n diep verstaan van die realiteit, waarmee hulle moet werk. Daardie basis help hulle om dinge te transformeer en te innoveer. Hulle sien alles wat hulle leer as dinamiese inligting en laat voortdurend toe dat hulle nuwe realiteite skep deur die inligting te laat groei en verander.


6. Hulle vind vryheid in beperkings


Baie leiers dink hulle kan nie innoveer nie, want die buitelyne van hulle werk is te beperkend. Rebelle werk egter deur sulke beperkinge en kan selfs inspirasie daarin vind. Gino gebruik die outeur, Dr Seuss, wat ‘n weddenskap met die medestigter van Random House uitgewers aangegaan het, dat hy ‘n boek kan skryf deur slegs vyftig verskillende woorde te gebruik. Die resultaat was die topverkoper, Green Eggs and Ham.


7. Hulle lei van die voorste linies af


Rebelle onderneem heel dikwels take, wat hulle kollegas verbaas. Rebelle gee nie om om hulle hande vuil te maak en op grondvlak besig te wees nie. Daarvoor word hulle geweldig deur hulle kollegas gerespekteer. Daar word vertel hoedat Chef Bottura gereeld self die sypaadjie voor sy restaurant skoonvee of self help om vragte kos af te laai en na die kombuis te dra.


8. Hulle skep spasies vir “voorspoedige ongelukke”


Rebelse leiers voorkom dat departemente en spanne in silo’s werk en voorsien gereeld spasies, waar verskillende spanne en afdelings in die organisasie saam kan werk, saam gesels en saam projekte aanpak. Steve Jobs het die Pixar-hoofkwartier spesifiek so ontwerp dat werknemers van verskillende werksomgewings dikwels in mekaar vasloop. Sy gedagte daarmee was dat, indien die rekenaarwetenskaplike en die persoon wat die animasie doen, gereeld verby mekaar skuur, hulle later sal begin om idees te bespreek en uit te ruil. Dit noem hy “voorspoedige ongelukke”. Hulle was nie veronderstel om te ontmoet nie, maar hulle het en dis goed vir ons almal.


Teologies herinner rebelse leiers ons bo alles daaraan dat leiers skeppers en kreatief moet wees. Dat ons na God se beeld gemaak is, beteken dat ons onder andere aan God se voortgesette skeppingshandelinge sal deelneem. Hy is die eerste en primêre Skepper. Ons skep bloot, omdat Hy skep en binne-in ons die vermoë geplaas het om te kan skep met wat vir ons gegee is. Terwyl almal so graag praat van die nodigheid van kreatiwiteit, moet ons onthou dat kreatiwiteit en skeppendheid saamgaan met rebellie, met die nuwe, met ontsteltenis van mense, wat nie wil groei nie.


Mag leiers begin rebelleer. Nie uit selfsug of dwaasheid nie, maar uit liefde vir God en mense.

© 2024 Ekerk Vereniging.

Trots gebou deur Ekerk.

Ekerk bankbesonderhede:


Ekerk Vereniging,

ABSA Bank, Takkode: 632 005,

Rekening: 4059 699 232

South Africa | Suid Afrika

Payfast_white.png
snapscan grys_edited_edited.png
Zapper logo wit.png

Vind, volg & bevriend ons hier:

  • Whatsapp
  • White Instagram Icon
  • White Facebook Icon

Laai ons "app" af:

Apple store wit.png
bottom of page